Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 59

24 Februarie

Оглавление

Nie uitstel nie, maar geduld

Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. 2 Petrus 3:9

Die eerste Christene se tydsberekening het hulle so effens in die steek gelaat. Hulle het die wederkoms van die Here sommer binne die afsienbare toekoms verwag. In die lig van die wederkoms wat op hande was, was hulle bereid om die teenspoed en vervolging wat hulle te beurt geval het, te verdra. Maar toe kom die Here nie so gou soos wat hulle verwag het nie. Trouens, Hy bly weg en die intensiteit van die vervolging neem toe. Dit is vir hierdie Christene wat Petrus skryf.

Nee, sê Petrus, die Here stel nie die vervulling van sy beloftes uit nie. Daar is nie ’n moedswillige of planlose vertraging in God se program nie. Dit is ’n doelbewuste wagtydperk. En wat is God se doel daarmee? Dat mense tot bekering sal kom! Want sien, die wederkoms is ’n finale gebeurtenis. Ná die wederkoms is daar nie nog ’n kans nie. God wil hê dat mense hulle sal bekeer, indien moontlik, almal! Die keuse lê egter by die mense. God gee die kans van ’n leeftyd, maar dis die mense wat moet besluit.

Kom ons sluit by God aan om sy plan te verwesenlik. Kom ons verkondig die evangelie van redding so goed as wat dit moontlik kan sodat mense gered kan word. Is daar miskien iemand wat jy ken vir wie Jesus se wederkoms ’n baie slegte ervaring sou wees? Wil jy nie met daardie persoon gaan gesels nie?

Here, vergewe my dat ek so selfsugtig aan u wederkoms dink. Gee vir my ’n passie vir ’n verlore gaande wêreld. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх