Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 62

27 Februarie

Оглавление

Minagting van die woord

Elke keer wanneer Jehudi drie of vier kolomme klaar gelees het, het die koning dit met ’n skrywersmes afgesny en op die vuur in die kolebak gegooi. Hy het so gemaak tot die hele boekrol in die vuur was. Jeremia 36:23

In Jeremia 36 hoor ons die verstommende verhaal van blatante minagting van die woord van God. Jeremia het in opdrag van die Here sy boodskap aan sy volk deur Baruk laat neerskryf. In die boodskap het die Here sy ontevredenheid met die volk se sonde asook sy oordeel oor die volk duidelik uitgespel. Baruk het die boekrol aan die volk op ’n vasdag gaan voorlees. Die koning se amptenare was teenwoordig en het dadelik aan hom verslag gaan doen. Koning Jojakim het in sy paleis voor ’n bak kole gesit waar Jehudi die boekrol vir hom voorgelees het. Na elke paar paragrawe het die koning die gelese stuk afgesny en in die vuur gegooi totdat die hele boek verbrand is. Sy reaksie was presies die teenoorgestelde van dié van sy pa, Josia, van wie ons gister gelees het.

Die koning se optrede is veel erger as ons hoor wat die Here se bedoeling met die voorlees van die boekrol was: As Juda hoor van al die rampe wat Ek oor hulle wil bring, sal elkeen hom miskien van sy verkeerde dade bekeer (Jer 36:3). Dit was inderdaad ’n “miskien” wat toe nie ’n werklikheid geword het nie – met rampspoedige gevolge vir die volk.

Ek het nog nie gehoor van ’n koning (of volksleier) wat die Bybel in die vuur gooi nie. Nogtans weet ek van baie staatshoofde wat die inhoud van God se Woord op vele ander maniere minag. Ons moet onsself tog ook gereeld in dié verband ondersoek.

Here, laat ons tog aandagtig na u Woord luister, al sou ons nie altyd van die boodskap hou nie. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх