Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 57

22 Februarie

Оглавление

Die tyd het aangebreek

Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” Markus 1:15

In Matteus 3:2 het Johannes die Doper presies met dieselfde oproep as Jesus vorendag gekom: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Nadat Johannes in hegtenis geneem is, het Jesus met sy bediening begin en terstond die bekeringsboodskap van Johannes herhaal.

Bekering en die koninkryk van die hemele – wat het dié twee met mekaar te doen? Sowel Johannes as Jesus het in die eerste plek met die Israeliete gepraat, dié mense wat met God ’n verbond gehad het, dié mense wat hulle tot gehoorsaamheid aan God se wet verbind het en die volk wat hulle beywer het vir die hervestiging van die koninkryk van Israel. Maar hulle het al hoe verder van God verwyder geraak. Daarom dan die oproep tot bekering, terug na God se wet!

En dan vir die koninkryk van die hemel. Moes dit nie die koninkryk van Israel wees nie? Só wou die meeste Jode glo. Maar Jesus lui ’n totaal nuwe bedeling in. Die klem val nie op ’n aardse volk nie, maar op die hemel, op God se tydlose en grenslose ryk. Die “tyd wat aangebreek het” is vervulde tyd, God se tyd vir ’n nuwe volk en ’n nuwe lewe. En dié nuwe ryk het naby gekom omdat die Koning van die ryk in julle midde is!

Bekeer julle, die tyd het aangebreek, die koninkryk van die hemel is hier! Die Koning het gesterf en opgestaan en sy ryk deur sy kerk gevestig. Maak seker dat jy in God se tyd leef, genadetyd, tyd van die nuwe ryk.

Here, u koninkryk is in my, rondom my, oral waar u heerskappy erken word. Ek loof en prys U, my Koning! Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх