Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 52

17 Februarie

Оглавление

’n Herhaalde oproep: Bekeer julle!

Die Here het Israel en Juda deur elke profeet en siener gewaarsku: “Bekeer julle van julle verkeerde paaie. Kom my gebooie en voorskrifte na volgens die hele wet wat Ek julle voorvaders beveel het, wat Ek deur my dienaars die profete aan julle gegee het.” 2 Konings 17:13

Die Woord van die Here kom op verskillende maniere tot ons. Vir die Israeliete was dit aanvanklik die priesters wat hulle aan die wet herinner het. Geen enkele gesin het ’n Bybel by die bed gehad nie. Die woorde van die priesters is mondeling oorgedra. Toe het die profete later van tyd die woordverkondigers geword. Waar die priesters die leermeesters van die wet was, het die profete veral die rol van bekeringspredikers ingeneem. Voorts het hulle God se toekomsplanne bekend gemaak.

In ons teksvers hoor ons dat die profete (en sieners, mense wat deur drome ’n boodskap van die Here ontvang het) die volk gewaarsku het. Die woord “profeet” in Hebreeus (nabi) beteken “om te praat” of “geroepene”. Kom ons vertaal dit só: geroep om te praat, om God se Woord bekend te maak. En so leer ons hulle die een na die ander ken: onverskrokke predikers wat God se wil sonder skroom bekend maak. Bekeer julle van julle verkeerde paaie! Natuurlik hou mense nie daarvan om op hulle foute gewys te word nie. Die profete was nie gewild nie. Hulle het nie mense na die mond gepraat nie. Daarom is hulle vervolg en selfs doodgemaak.

Woordverkondigers wat God se Woord sonder vrees verkondig en bereid is om bekering te preek, is vandag ook nie gewild nie. Maar ons moet luister. As hulle namens die Here praat, durf ons hulle boodskap nie ignoreer nie.

Here, maak my minder krities en meer ontvanklik vir u Woord, ongeag wie dit aan my oordra. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх