Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 60

25 Februarie

Оглавление

Wanneer die liefde verkoel

Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! Openbaring 2:4–5

Vir die ywerige gemeente van Efese sou ’n mens maklik volpunte wil gee, was dit nie vir vers 4 nie. Luister net wat sien die Here alles by hulle raak: onvermoeide arbeid en volharding; hulle verdra nie slegte mense nie; leersuiwerheid; stel leuenaars aan die kaak; bereid om baie te verduur en word nie moeg nie. En tog … een ding ontbreek, en die een ding is seker die heel belangrikste, naamlik liefde.

Daar is ’n groot verskil tussen godsdiensywer en liefde vir die Here. Hierdie waarskuwing aan die gemeente van Efese vind by baie eietydse gemeentes ’n adres. En dit is nie omdat mense doelbewus kies om die Here nie meer lief te hê nie; dis eerder ’n geleidelike verkoeling van die liefde as gevolg van ’n verskraalde gemeenskap met die Here. ’n Mens kan so besig wees met die dinge van die Here, met kerklike organisasie en projekte en diensaksies en wat nog meer, dat jou persoonlike verhouding met die Here skade ly.

Die vraag vir jou en my vandag is: Hoe lief het jy die Here? Raak jy nog opgewonde oor die Here? Gesels jy dikwels met Hom? Het jy ’n passie vir die dinge wat vir Hom belangrik is? Hoe word jou liefde vir die Here in jou elke dag se doen en late weerspieël?

Here, bewaar my van ’n oorvol program waarin daar nie genoeg plek vir liefde is nie. Ek wil vandag weer ’n liefdesverbintenis met U aangaan. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх