Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 53

18 Februarie

Оглавление

Raak stil, en vertrou op die Here

So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie; … Jesaja 30:15

In Jesaja 30 herinner die profeet die volk by herhaling daaraan dat hy namens die Here, die Heilige van Israel, praat. Sonde groei welig waar mense God se heiligheid veronagsaam, wanneer hulle nie meer respek vir God het nie. Die gevolg was dat God iewers op die agtergrond geskuif is, beskikbaar indien nodig. En intussen het mense hulle eie koppe gevolg en hulle eie begeertes bevredig. Hulle het hulle vertroue gestel in geweld en bedrog (vers 12) – die instrumente van selfhandhawing wat so mildelik deur die wêreld gebruik word. En dié sonde het soos ’n oorhangende muur geword wat enige tyd kon ineenstort en tot vernietiging lei (vers 13). En so is sonde mos: Jy verkeer onder die wanindruk dat jy ’n magtige konstruksie opgebou het, totdat dit op ’n dag inmekaartuimel omdat die fondamente verrot is.

En daarom die oproep tot bekering. Ondersoek die fondamente van jou lewensgebou. Ondersoek jou motiewe en jou beginsels. Vra jouself af waarom daar onrus in jou hart is. Bekeer jou en kom tot rus sodat jy uit die gemors gered kan word.

’n Mens raak so maklik verstrengel in al jou opportunistiese ondernemings, al die geldmaakplanne en gesukkel om bo uit te kom. En God word na die agtergrond verskuif. Sy Woord vergaar stof. Bekeer jou! Jou redding, jou krag, lê in stil wees en vertroue hê. Laat God toe om weer in die sentrum van jou lewe te staan en vertrou op Hom. Eers dan sal jy werklik rus en vrede en geluk vind.

Here, ek wil in u teenwoordigheid stil word, alles aan U oorlaat en volkome op U vertrou. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх