Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 50

15 Februarie

Оглавление

Na wie toe sal ons gaan?

Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?” Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.” Johannes 6: 67–68

Baie dissipels het Jesus verlaat. Toe Jesus sê dat Hy die brood is wat lewe gee en dat hulle dié brood moet “eet”, was dit vir hulle te erg. Hulle kon nie in Jesus glo nie. Wat Hy oor Homself en oor sy toekoms te sê gehad het, was vir hulle nie geloofwaardig nie. Toe draai hulle om. Dit is toe dat Jesus vir sy binnekring die vraag stel: “Wil julle nie ook weggaan nie?”

Ek glo nie selfs hulle het Jesus se woorde oor die brood van die lewe goed verstaan nie. Maar hulle het in Jesus geglo. En hulle het hulleself onherroeplik aan Hom verbind. Vandaar Petrus se antwoord: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. Petrus het nog nie alles volkome verstaan nie. Hy sou nog later sy rug op Jesus draai uit vrees vir mense. Maar in Petrus se hart was daar ’n geloof aan ’t groei wat niks minder as ’n gawe van God was nie. Só het Jesus alreeds na sy rotsbelydenis verklaar. En hier kom dit weer aan die lig. Hy erken dat Jesus die woorde het wat ewige lewe gee. Later, ná die kruisiging, sou hy wel deeglik besef dat Jesus inderdaad die brood is wat lewe gee.

Miskien het jy ook by geleentheid gewonder of jy ’n volgeling van Jesus moet bly. Jou geloof het in die spervuur gekom. Die vraag is net: Waarheen sal jy gaan? Weet verseker dat Jesus, die Woord wat mens geword het, die brood is wat lewe gee.

Jesus, ek glo U is die Woord wat lewe gee. Dankie vir die lewe. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх