Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 58

23 Februarie

Оглавление

Maak korte mette met sonde

Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. Handelinge 3:19

Bekering het met sonde te doen. Daarom dat ons nie erg opgewonde oor die woord “bekering” is nie; ons is gewoon net té opgewonde oor sonde. Bekering beteken ’n baie besliste keuse teen sonde en vir God. Ja, bekering het dan ook met God te make. Dit is tot God wat jy jou moet bekeer. Dit is ’n keuse teen sonde, maar vir God. Is dit die moeite, en dan ook die verlies aan plesier, werd?

Wanneer Petrus met sy prediking begin, is bekering vanselfsprekend hoog op die lys. Jesus het vir sy dissipels ’n baie duidelike visie van God se nuwe ryk gegee. As jy maar net na sy bergrede luister, kry jy ’n treffende indruk van presies hoe Jesus oor die toepassing van God se wet dink. Trouens, as ek die bergrede lees, meen ek dat baie min (indien enige) van ons nie weer ’n slag tot bekering moet kom nie! Want sonde is mos enigiets wat nie in pas is met God se wil vir my lewe nie. Sonde is nie net die doen van verkeerde dinge nie, maar ook die nalaat van die regte dinge.

Bekering is ’n ernstige en moeilike saak. Dit is ’n lewensveranderende besluit. Dit is die beëindiging van gevestigde gewoontes. Dit hou geweldige uitdagings in. Is dit die moeite werd? Ja, as jy vir God ernstig opneem, is dit vir seker die moeite werd. Dit is ’n keuse vir die lewe. Jou sonde word uitgewis, van die rol geskrap. Jy staan weer met God in ’n gesuiwerde verhouding. En as jy dan weer sondig? Dan draai jy weer terug! Ek sê mos: Ons moet maar gedurig weer tot bekering kom …

Here, dankie dat U my sonde vergewe het. Ek wil graag tot u eer lewe. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх