Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 48

13 Februarie

Оглавление

Ek is tot beskikking van die Here

Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan. Lukas 1:38

Dit is vir ons baie moeilik om ons in Maria se plek in te dink. ’n Gewone jong plattelandse meisie kry op ’n dag besoek van ’n engel. Wat het deur haar kop gegaan? Hoe vreemd en selfs skrikwekkend moes dit nie vir haar wees nie. En daarby nog die engel se boodskap! Sy, ’n ongetroude jong meisie, sal deur ’n Goddelike ingryping swanger raak en aan die Messias geboorte skenk. Hoe het sy die verstommende nuus verwerk? Hoe antwoord ’n mens op sulke nuus? Dit was tog sekerlik nie hoe sy oor haar eerstelingbaba gedroom het nie. Wat sal Josef sê? En haar ouers en die dorp se mense!

Maria besef dat sy in God se teenwoordigheid staan. Sy besef dat sy nie aan mense nie, maar aan God self ’n antwoord verskuldig is. En hierdie jong meisie besluit om sonder skroom, sonder om die gevolge te probeer bereken, vir die Here “ja” te sê. Baie mense weier om hierdie verloop van sake as werklikheid te aanvaar. Ek is regtigwaar so bly dat Maria haar situasie nie wetenskaplik beredeneer het nie, maar eerder in kinderlike geloof gesê het: Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.

Om tot beskikking van die Here te wees, impliseer ’n onvoorwaardelike oorgawe. Meesal vind ons dit moeilik. Ons wil graag self in beheer van sake bly. Ja, bereid om te dien, maar op eie voorwaardes. Die Here vra onvoorwaardelike beskikbaarheid. Dan kan Hy deur jou lewe wonders verrig.

Here, help my om ook soos Maria onvoorwaardelik tot U beskikking te wees. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх