Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 61

26 Februarie

Оглавление

’n Bekering wat opslae maak

Daar was nie voor hom nog so ’n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie, en ná hom was daar ook nie so ’n koning soos hy nie. 2 Konings 23:25

Bekering moet met woord en daad bevestig word. En dit is presies wat in die lewe van die jong koning Josia van Juda gebeur het. Dit bly darem een van die mooiste Ou-Testamentiese verhale. Die Woord van die Here het in Juda verlore geraak. Die wet van die Here het letterlik onder die stof weggeraak. Toe Josia sorg dat daar herstelwerk aan die tempel gedoen word, is die wet van die Here daar gekry. Vir die koning was dit ’n verrassende, maar ook skokkende openbaring. Hy het dadelik hervormingsmaatreëls ingestel. Die Here het Josia se berou en opregte bekering raakgesien. En sy bekering was inderdaad opreg – hy het alle vorms van afgodery met wortel en tak uitgeroei en die feeste soos in die wetboek bepaal, weer ingestel. Veral met die Paasfees is daar groot moeite gedoen. Dit was immers die fees van verlossing wat vir soveel jare deur die volk geminag is. Josia het ’n kragtige getuienis gelewer wat vir die hele volk tot voorbeeld was.

Josia se lewe is vir ons ’n goeie toets vir ons eie manier van lewe. Die kuns van bekering is nie net om ’n verkeerde leefwyse af te sweer nie, maar om positief ’n nuwe koers in te slaan. Die wêreld moet dit kan sien en weet dat ek en jy rede het om oor ons verlossing fees te vier!

Here, help my om soos Josia met hart en siel en al my kragte my bekering in woord en daad te bewys. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх