Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 54

19 Februarie

Оглавление

Ander gode

Ek het vroeg en laat my dienaars die profete na julle toe gestuur om te sê: “Elkeen van julle moet hom van sy verkeerde dade bekeer. Julle mag nie agter ander gode aanloop en hulle dien nie.” Jeremia 35:15

Die profete waarsku die volk dikwels teen afgode. As ons deur die Ou Testament blaai, vind ons hoe dikwels die Israeliete met heidense praktyke deurmekaar geraak het. Afgode was toentertyd aan die orde van die dag. Dit was ’n integrale deel van die heidenwêreld se bestaan. Elke huis, elke mens, het ’n afgod of twee, drie gehad. Net die Israeliete is verbied om afgode te aanbid. Maar namate die Israeliete ál meer aan die ander volke blootgestel is, en met hulle lewenstyl vertroud geraak het, het dié mense se godsdienstige praktyke op God se volk begin afgee. Dit het tog nie na ’n slegte ding gelyk om benewens die Here ook ’n afgodjie te vertroetel nie, net vir so ’n bietjie ekstra geluk. Maar in God se oë was dit verkeerd!

Ander gode of afgode verplaas die Here as die enigste ware God in mense se lewens. Hulle neem óf God se plek mettertyd volledig in, óf hulle kom op dieselfde vlak met God te staan, feitlik in kompetisie met God. Mense stel hulle vertroue in afgode. Hulle raak versot op die afgode. En God verdwyn in die newel van afgodsbedwelming.

Wat het dit met ons te doen? Sommer baie! Vra jouself gerus af waarin of in wie stel jy regtig jou vertroue? Het die geldgod, die god van materiële dinge, nie dalk in jou godegalery plek gekry nie? En het dit nie dalk vir jou op ’n verkeerde koers geplaas nie? Dalk tyd vir bekering?

Heilige Gees, maak dit asseblief vir my duidelik of daar nie dalk ook in my lewe afgode is waarvan ek afstand moet doen nie. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх