Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 51

16 Februarie

Оглавление

Bekeer julle!

… en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Matteus 3:2

Woord en antwoord – hoe raak dit my elke dag se lewe? Kom ons gesels oor bekering. Ja, ek weet dat mense vir dié woord sku is. Dis nie nodig nie. Kom ons luister eerlik wat die Bybel daaroor te sê het.

Bekering is ’n woord wat verskillende reaksies ontlok: party mense kruip in hulle dop, ander raak weer opgewonde en begin sommer dadelik van ’n bonatuurlike ingryping getuig terwyl die meeste mense daaraan dink as ’n eenmalige keuse. Dit is inderdaad ’n veelkantige woord. Want vir seker beteken dit vir talle mense die herinnering aan ’n wonderlike bekeringservaring. En ja, bekering het wel met ’n keuse te make. Maar dis nog lank nie al nie – as ek deur die Bybel blaai, is bekering veel eerder deel van ’n Christen se leefstyl – dit is die manier waarop ek dag vir dag op God se stem antwoord.

In bekering gaan dit oor woord en antwoord. Bekering is nie net ’n

radikale ommekeer nie, maar ook, en ek meen veral, voortdurende koersaanpassings, meesal glad nie radikaal of opwindend nie, maar altyd in antwoord op God se Woord. Byvoorbeeld: As jy Sondagoggend uit die kerk stap, kan dit ’n bekeringsmoment in jou lewe wees. Vra jouself af wat die Here vanoggend vir jou gesê het en hoe jy daarop gaan reageer; in watter mate dit jou lewenskoers gaan beïnvloed. Neem ’n besluit om daadwerklik op God se Woord te antwoord, en siedaar: bekering!

Hou ook in gedagte dat bekering telkens ’n keuse vir die Koning en sy koninkryk is. Dit is nie bloot ’n poging tot selfverbetering nie. Dit is juis ’n beweging weg van enige selfsugtige motiewe na ’n Christus-gesentreerde lewe.

Here, leer vir my wat bekering in my eie lewe moet beteken. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх