Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 10

DAG VIER, VYF EN SES

Оглавление

Hou vol met jou gemaklike pas en konsentreer op alles wat jy al omtrent jou baba geleer het. Dit is nog net die begin, en jy wonder dalk hoe jy ooit alles gaan hanteer, maar jy sál. Pamperlang jouself en jou kleinding en doen net die allernood­saaklikste.

Meer oor Baba

•Baba sal teen dié tyd en vir die volgende paar weke gereelde stoelgange hê, soms net ’n blertsie, ander kere weer oorvloedig. Normale borsvoedingstoelgange is sag en mosterdkleurig en lyk asof daar pitjies in is.

•Party babadogtertjies skei ’n bietjie bloed uit die vagina af. Dit is ’n reaksie op die hormone waaraan sy blootgestel was in die baarmoeder en sal gou opklaar.

•Gaan voort om die naeltjie en naelstringstompie skoon te maak. Dit sal binne­kort afval of nog net aan ’n draadjie hang, wat jy kan afknip.

•As Baba gereeld windjies boontoe én ondertoe laat, met ’n rooi gesiggie huil, sy vuisies bal en sy bene optrek, mag jy dalk begin vermoed dat hy koliek het. Koliek is meestal bloot ’n geval van ’n baba wat meer dikwels moet drink, of ’n reaksie op Ma se angstigheid, moegheid en gebrek aan ervaring. Die heel beste wat jy kan doen, is om die volgende paar dae rustig te benader, besoekers te beperk, te sorg dat Baba nie deur te veel mense vasgehou word nie aangesien dit hom onrustig kan maak, en te ontspan in die wete dat jy binnekort sy seine goed sal leer verstaan.

•Borsbabas moet hul voeding dikwels in ’n hele paar “gange” geniet – voorgereg, hoofgereg, nagereg, en soms selfs ’n pepermentjie agterna! Moenie begin twyfel of jy genoeg melk het nie. Baba mag miskien 10–15 minute lank tussen “gange” aan die slaap raak, ’n skoon doek nodig hê of bloot in jou arms lê en rus tot sy magie gereed is vir die volgende gang.

Wenke vir Ma

•Sorg dat jy een onkritiese familievriendin of familielid het om jou by te staan, en aanvaar ook hulp en ondersteuning van jou lewensmaat.

•Dokter jouself minstens 3 maal per dag met homeopatiese Rescue Emotion-tablette.

•As jou tepels gevoelig is of as jy baie lig van vel is, sal dit help om jou borste 2 maal per dag 5–10 minute lank aan sonlig bloot te stel, maar sorg dat jy nie brand nie.

•As die situasie vererger eerder as verbeter of as jy steeds sukkel om Baba te laat vas­suig, kan jy hulp vra by ’n voedingsraadgewer. Dit is beslis die moeite werd, want dit kan sorg dat die res van jou borsvoedingservaring baie positief verloop.

•Moenie bekommerd wees dat jy jou baba sal versmoor as sy saam met jou in jou bed slaap nie. Trek haar net koeler aan, aangesien sy aan jou liggaamshitte blootgestel word. ’n Slapie saam is dalk net wat julle albei nodig het om die volgende paar dae te oorleef.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх