Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 21

MYLPALE

Оглавление

•Baba sal beter nekbeheer hê, maar jy sal nog steeds die kop moet ondersteun wanneer hy nie in die regop posisie gehou word nie.

•Baba volg toenemend bewegende voorwerpe met sy oë, selfs oor die middellyn.

•Let op hoe hy langer op spesifieke voorwerpe fokus.

•Sy sal met haar hand na voorwerpe reik wat binne ’n armlengte van haar af hang.

•Hy is dol daarop om na gesigte te kyk wat op ’n papierbord geteken is, maar hy sal met joune ook tevrede wees!

•Sy sal wegkyk en weier om oogkontak te maak wanneer sy moeg of oorgesti­mu­leer is.

Beproef hierdie wenke om jou tydjies saam met jou baba gedurende hierdie weke genotvol en betekenisvol te maak:

•Troetel en druk jou baba gereeld en liefderik. Hulle is dol op die bekende warmte, geur en teenwoordigheid van die belangrikste mense in hul wêreld, Ma en Pa.

•Voed jou baba na behoefte. Honger is een van die belangrikste oorsake van ontevredenheid in die vroeë dae en ’n baba se eetlus wissel deur die dag; moet dus nie volgens ’n rooster probeer werk nie.

•Wieg jou baba. Ritmiese beweging is meestal baie vertroostend vir klein baba­tjies: dit herinner hulle aan die tyd in die baarmoeder toe hulle onophoudelik gesus is.

•Beskerm jou baba teen te veel vreemdelinge. As elke besoeker jou baba na harte­lus kan hanteer, bly sit jy op die ou end met ’n angstige baba. Dring vriendelik maar ferm aan op jul albei se reg tot vrede en geluk. Straal selfvertroue uit om Baba op sy gemak te stel in vreemde geselskap.

•Praat van die begin af met jou baba en sing vir hom. Babas is baie lief vir die klank van hul ouers se stemme en hulle neem graag deel aan julle gesprekke – dit sê vir hulle dat jy hulle erken en dat hulle welkom en gelief is, en wat meer kan enige baba vra? Dit maak nie saak of dit babataal is of nie, hou net aan praat!

•Stoot jou baba se stootwaentjie of bedjie onder ’n digte boom. Dit is ’n kitsbewertjie en babas vind die spel van lig en skaduwee so boeiend dat dit hulle rustig aan die slaap sal sus of bloot vir ’n hele rukkie sal besig hou.

•Laat tweelinge saam in ’n babawiegie of -bedjie slaap. Hulle is nie net tevrede wanneer hulle die bekende nabyheid van hul eerste maatjie ervaar nie; dit troos hulle ook dikwels wanneer hulle ongelukkig voel of aan die slaap raak.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх