Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 8

DAG TWEE

Оглавление

Baba sal vandag nog stil wees en jy sal moeg voel, maar moontlik nog steeds nie baie vas kan slaap nie. As jou baba in ’n kraaminrigting gebore is, mag jy selfs vandag huis toe gaan. Hoewel jy miskien wil terugdeins voor dié vooruitsig, voel ’n mens tuis dikwels meer ontspanne en sal jy daar gouer herstel en aanpas. Wat jy ook al vandag doen, haas jou langsaam. Baba se fokus is beperk tot ongeveer 25–30 cm, die ideale afstand tussen jou bors en jou gesig. Hy sal nog steeds styf opgekrul lê en voel asof hy deel vorm van sy omgewing, nie heeltemal seker waar hy ophou en sy ma en die wêreld begin nie.

Meer oor Baba

•Maak Baba se naeltjie met elke doekomruiling skoon om infeksie te voorkom – gebruik ’n stukkie watte met gousblommelk of chirurgiese alkohol om die klamp, naelstring en basis skoon te maak. Die naelstring sal geleidelik uitdroog en dan moet die voutjies van die naeltjie met ’n oorstokkie gedoop in gousblom- melk skoongemaak word.


•Baba kan vandag of môre effense geelsug ontwikkel. As die bilirubienvlakke (die geel pigment) baie hoog is, sal jy moontlik aangeraai word om haar foto­terapie­behandeling te laat ondergaan, waartydens haar ogies bedek word en haar lyfie met ultravioletlig bestraal word, wat die bilirubien vinniger laat afbreek. Borsvoed Baba meer gereeld, want die hitte put haar uit en sy sal gevolglik minder drink. Sy het baie vloeistof nodig om haar te help om die bilirubien uit te skei. Dit is ook baie doeltreffend om Baba 5–10 minute lank met bedekte ogies aan son­lig bloot te stel. Hierdie soort geelsug is nie gevaarlik nie en kan tuis onder gehuurde ligte (met die hulp van ’n privaat vroedvrou) of met gewone sonlig behandel word. Party klinieke gebruik ligtoestelle wat om die liggaam gedraai word. Dit is verkieslik, omdat Baba dan meer hanteerbaar is.

•As jou baba spesiale sorg kry, sal jy vandag nogal hartseer voel. Bring soveel moontlik tyd in die baba­saal of hoësorgeenheid deur en masseer Baba se voetjies en handjies of laat rus eenvoudig jou hand op sy magie. Gesels met hom en neurie vir hom.

•Borsvoeding sal steeds soos die eerste dag verloop: voed na behoefte, sorg dat Baba reg vassuig en geniet bloot die ervaring.

•Jy sal Baba al effens makliker hanteer, maar moenie bekommerd wees as jy nog steeds baie onhandig voel nie.

Wenke vir Ma

•Vra hulp om Baba te help vassuig as jou tepels gevoelig is. Jy kan ’n rooibosteesakkie met 2 tee­lepels kookwater nat maak, dit laat afkoel en dit op die seer tepel plaas om die pyn te verlig – dra dit binne die voedings­kussinkie in jou bra tot die volgende voeding.

•Gooi ’n hand vol growwe sout by jou badwater om die perineum teen infeksie te beskerm.

•Draai ’n yssak in ’n waslap toe en hou dit teen jou perineum om swelling en pyn te verminder.

•Gaan voort met die Rescue Birth & Recovery en Arnica D6-tablette, maar elke 3 uur terwyl jy wakker is.

•Gebruik vandag ’n gliseriensetpil as jy nog nie spontaan opelyf gehad het nie. Ignoreer die aanvanklike behoefte wat jy sal voel net nadat jy dit in jou anus ge­plaas het, gaan lê ’n rukkie en wag 10–15 minute om die setpil kans te gee om op te los. As jy dadelik toilet toe gaan, kry die setpil nie kans om te smelt nie.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх