Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 12

DAG TIEN

Оглавление

Dit is ’n besondere mylpaal op die ouerskapskalender – selfs al voel jy nog moeg en is Baba steeds veeleisend, voel jy waarskynlik al minder soos ’n groentjie. Baie vroue sal weer die buitewêreld wil aandurf om met hul baba te gaan spog en ge­niet die feit dat dit makliker gaan om te loop en te sit, aangesien die perineum waar­skynlik teen dié tyd mooi genees het as jy die wenke gevolg het.

Meer oor Baba

•Roetine is belangrik vir jou én vir Baba, maar sorg dat sy die pas aangee. Danksy jou waarnemings die afgelope paar dae weet jy moontlik teen dié tyd al hoe dikwels jou baba verkies om te drink – die patroon sal heel waarskynlik intervalle van 2 uur vertoon, met een of twee langer periodes elke 24 uur. Enkele babas drink klokslag dwarsdeur die dag en nag. Laat jou lei deur hierdie aanpasbare patroon en bou jou roetine daar rondom.

•Baba kan enige tyd van die dag gebad word, maar probeer om dit elke dag op dieselfde tyd te doen. Voor ’n voeding en ná ’n langerige slapie is ’n goeie tyd, aangesien sy dan baie ontspanne is.

•Let op of daar ’n besonder moeilike tyd van die dag is en sorg dat jy dan so min moontlik roetinetake hoef te verrig. Borsvoed eerder dikwels, gaan stap met Baba of laat Pa ’n rukkie oorneem tot jy meer uitgerus voel.

•Ondersoek die tong, tandvleis en binnekant van die wange vir tekens van sproei as Baba sukkel om te drink: dit lyk soos opgehewe, dik wit kolletjies. Dit moet met ’n orale swamdodende jel, homeopatiese Sister Lilian Calendula-tablette of die weefselsout Kali. mur. behandel word. Jy sal ook jou tepels met swamdodende room moet behandel, aangesien kruisbesmetting ’n gevaar is.

•Leer jou baba se liggaamstaal lees, wat uit fisieke gebare en verskillende soorte huil bestaan. As Baba deurdringend huil, gewoonlik ná ’n voeding, en rooi in die gesig raak, is dit dalk sy manier om te sê: “Ek is gefrustreerd en sommer baie vies, Ma! Ek moet nog ’n bietjie langer drink voor dié sessie verby is. Moenie van my verwag om alles binne een of twee gange in te kry nie. En moenie dit koliek noem as ek dan huil nie!” Dié soort baba sal eiesinnig en intens voorkom, maar sal dikwels heel tevrede wees tussen voedings. As hy baie winderig is en heelwat melk opbring, sal hy dalk goed reageer op behandeling met homeopatiese middels soos NausiCare of ColicCare.

Wenke vir Ma

•Al voel jy meer energiek, moet jy nog steeds nie te veel probeer doen nie. Gaan dag en nag voort om jou energie te bespaar en rus bedags kort-kort. Moet ook nie te veel huishoudelike take probeer afhandel nie.

•Jy sal moontlik vandag bloedklonte uitskei en skielik meer bloei. As die bloeding binne ’n paar uur verbygaan en jy geen pyn of koors het nie, is daar geen rede tot kommer nie. As jy egter sleg voel en aanhoudend sterk bloei, moet jy so gou moontlik met jou vroedvrou of dokter in verbinding tree.

•Laat jou lewensmaat jou na ’n babavriendelike restaurant uitneem vir tee en geniet die bewonderende blikke wat jou baba ontlok.

•As jy nog steeds huilerig is en voel asof jy nie die mas opkom nie, skakel ’n private vroedvrou, besoek die Sister Lilian Centre-webwerf vir beskikbare dienste of bel die Postnatal Depression Support Association. Dit help om perspektief te kry as jy jou gevoelens met iemand anders deel.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх