Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 17

WEEK VYF

Оглавление

Week Vyf sal nie veel van die vorige week verskil nie, behalwe dat alles effens duideliker omskrewe is. Skewe glimlaggies dui daarop dat Baba besig is om van sy omgewing bewus te raak. Sy sal spoedig begin koergeluidjies maak wanneer sy wakker en versadig is.

Baba se huilgeluide sal jou die meeste bekommer. Daar is soveel redes waarom babas huil. Die meeste is glad nie ernstig nie en dit verg eenvoudige oplossings om Baba weer tevrede te stel. Huil is bloot Baba se eerste vorm van taal: sy manier om met jou te kommunikeer.

Moenie oorhaastig voorkomend reageer op elke geluidjie wat ’n baba uiter nie. ’n Baba sal dikwels eers ’n paar geluidjies maak, ’n bietjie kerm, dan rondwriemel en weer uit sy eie tot rus kom. Los hom eers ’n rukkie en stel vas of hy regtig iets nodig het. Dit beteken nie dat jy hom lang tye aaneen bitterlik moet laat huil nie; bloot dat jy nie outomaties moet aanvaar dat dit wel gaan gebeur nie. As Baba huil, oorweeg eers die volgende moontlikhede voor jy na ernstiger oorsake begin soek:

•Is Baba se doek nat of vuil? Stel gereeld ondersoek in en ruil dit om indien nodig.

•Is Baba dors of honger? Voed na behoefte, nie volgens ’n skedule nie.

•Kry hy te warm of te koud? Onthou dat babas gouer koud én warm kry as volwassenes en dat jy moontlik ’n laag of twee klere of komberse sal moet byvoeg of verwyder.

•Is sy ongerieflik, moontlik omdat sy te lank op een sy gelê het en een van haar ledemate slaap? Verander haar posisie af en toe as sy klaerig is.

•Is hy moeg en vryf hy sy ore of oë? ’n Wandeling, ligte kloppies, susbewegings of sang sal hom aan die slaap help sus.

•Raak hy teen laatmiddag ongedurig, soos byna alle babas? Gaan stap ’n entjie, bad jou baba of dra hom in ’n buidelsak rond; dit is ou beproefde rate.

•Is sy dalk verveeld? Speel speletjies wat gepas is vir haar ouderdom.

Party babas huil om aandag te kry, en dit is ’n ernstiger saak. Die meeste babas het hope aandag nodig en as jy jou baba taamlik baie aandag gee, behoort hy ge­lukkiger te wees. Moenie ’n baba as “stout” etiketteer nie – emosionele aandag is ’n geldige behoefte. ’n Drasak is dikwels die oplossing vir die probleem van huil ter wille van Ma of Pa se nabyheid. As Baba aanhoudend knieserig bly on­danks jou pogings, kan dit moontlik ’n aanduiding wees van ’n hoë behoeftevlak of dat sy homeopatiese Chamomilla-tablette nodig het. Babas se persoonlikhede verskil net soveel soos volwassenes s’n, en jy mag soms voel dat hulle glad nie sulke aangename wesens is nie!

Indien ’n baba ’n keisersnee- of moeilike geboorte gehad het, kan Arnica-tablette gebruik word om die gevolge van spanning te verminder. Sulke ongelukkige babas reageer ook goed op massering.

Ander oorsake van huil wat spesiale aandag verdien, is koliek en tande kry. Lees elders in hierdie boek meer hieroor.

Nadat alle ander redes uitgeskakel is, moet jy laastens vasstel of ’n onge­lukkige baba dalk huil omdat hy koors het of siek is. Wees gedurig oplettend – vra jouself af of Baba koorsig voel, dalk van sy melk af is en of sy nat doeke ’n kenmerkende reuk het wat byvoorbeeld op ’n blaasinfeksie kan dui.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх