Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 13

DAG ELF TOT VEERTIEN

Оглавление

Jy probeer seker darem nog nie Supervrou wees nie, of hoe? In werklikheid het jy waarskynlik nog nooit in jou lewe so hard gewerk nie. Wat jy doen, voel dalk nie altyd so indrukwekkend nie – die sleurtake van voeding, doeke omruil, bad, winde uitvryf . . . Maar herinner jouself daaraan dat daardie take die raamwerk vorm van die baie belangrike taak om die volgende geslag te versorg, te vorm en groot te maak. Jy kan met reg trots voel daarop. Elke enkele dingetjie wat jy doen, berei Baba voor op die toekoms, en daar is geen belangriker taak as dit nie.

Meer oor Baba

•Noudat jy Baba met meer selfvertroue hanteer, het dit tyd geword om te begin munt slaan uit jou ervaring. Jy kan lê terwyl jy borsvoed sodat jy saam met Baba kan slaap. As jy eers hierdie kuns bemeester het, gaan jy veel meer slaap as ooit te vore, al is dit steeds onderbroke. Verwys na die afdeling oor melk­voeding vir meer besonderhede oor dié wonderlike manier van borsvoeding.

Wenke vir Ma

•Gaan stap vandag stadig om die blok. ’n Wandeling met jou baba kan ’n baie genotvolle en doeltreffende vorm van oefening wees om weer jou figuur te herwin, terwyl dit Baba sal troos en vermaak. Maak dit deel van jou roetine en stap geleidelik al hoe verder en vinniger.

•Speel gereeld strelende agtergrondmusiek; julle sal dit albei ewe veel geniet.

•Luister na geselsprogramme of interessante onderhoude oor die radio om jou weer deel van die buitewêreld te laat voel.

•Bestudeer jou borste 1–2 maal per dag in die spieël om te sien of jy enige rooiheid (gewoonlik in ’n effense driehoekvorm) opmerk, en voel saggies of jy enige gevoelige, knopperige dele kan voel. Laat Baba eerste aan daardie kant drink of masseer die gedeelte tot dit sag voel.

•As jy ’n haarkappervriendin het, vra haar om jou hare tuis te kom versorg. Dit sal jou dadelik opkikker. Vra ’n vriend of familielid om na Baba te kyk terwyl jy gepamperlang word.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх