Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 9

DAG DRIE

Оглавление

Dit is dikwels die dag waarop die werklikheid jou vol tussen die oë tref; jy voel meteens tot die dood toe moeg, jou melk kom in en Baba begin wakker word en ontdek dat hy ’n stemmetjie het. Bababedruktheid teen die derde dag, oftewel “baby blues”, is welbekend en gewoonlik van verbygaande aard sodra jy ’n behoor­like ruskans gehad het, jou hormone gestabiliseer het en jy uiting gegee het aan jou emosies. As jy ’n goeie, natuurlike, aktiewe geboorte gehad het, mag jy vandag fisiek goed voel. Jou borste sal gevoelig wees, maar behoort nie oorvol te voel en uitermate pynlik te wees as jy die afgelope paar dae se wenke gevolg het nie.

Wenke om met Baba te help

•Baba sal moontlik begin proes en verstik aangesien jou melk nou vinniger sal vloei. Laat hom bloot ’n rukkie asem skep wanneer nodig. Dit is heel normaal om ná ’n voeding ’n bietjie melk op te bring; dit lyk gewoonlik meer as wat dit is.

•Gaan vandag voort om Baba na behoefte te voed aangesien dit jou borste doeltreffend sal help ledig. Moenie die horlosie dophou tydens voedings of volgens ’n skedule voed nie.

•As jou borste te ferm is en Baba sukkel om te suig, kan jy hulle effens warm maak en ’n bietjie melk uitmelk om die gedeelte rondom die tepels en areola sagter te maak.

•Jy moet nou begin om Baba se winde uit te vryf ná voedings. Beproef een van die volgende metodes:

•Hou haar oor jou skouer en klop haar liggies op die rug.

•Dra haar in ’n buidelsak ná elke voeding.

•Laat haar met haar rug na jou oor jou voorarm lê om effense druk op die magie uit te oefen.

•Lig jou een been effens hoër as die ander, laat haar oor jou skoot lê met haar kop hoër as haar boudjies en klop haar liggies op die rug.

•Laat haar op jou skoot sit met haar ken tussen jou wysvinger en duim, en lig haar linkerarm op terwyl jy opwaarts oor haar rug vryf.

As Baba nie binne 5–10 minute van die wind ontslae raak nie, kan jy maar ophou. Enige winde wat sy daarna opbring, hou nie meer verband met daardie voeding nie.

Wenke vir Ma

•As jy baie emosioneel voel, kan jy homeopatiese Rescue Emotion of die weefselsout Nat. mur. drink.

•As jy steke gekry het, mag hulle begin styf trek. Blootstelling aan sonlig sal die wond help uitdroog, genees en streel.

•Gaan vandag voort met Rescue Birth & Recovery- en Arnica D6-tablette, elke 3 uur terwyl jy wakker is.

•Trek vandag die telefoon uit sodat jy kan rus en Baba nie gesteur word nie. Gun jouself genoeg tyd, jy sal binnekort begin beter voel en dinge onder beheer kry.

Oorvol borste

•As jou borste baie hard en seer is, sny ’n tepelgrootte gaatjie in die middel van twee heel koolblare, dompel dit 10 sekondes lank in kookwater, druk droog en plaas net so warm oor jou borste om hulle te streel en die melkvloei te verbeter. Vervang teen die volgende voeding en herhaal tot jou borste heeltemal gemaklik voel.

•Warm waslappe of ’n warm stort of bad kan ook help om oorvol borste te behandel.

•Moenie Baba se drinktyd beperk nie, mits hy korrek vassuig, want jou borste moet geledig word. Die oorvol gevoel sal binne twee dae verbygaan.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх