Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 11

DAG SEWE, AGT EN NEGE

Оглавление

Veels geluk, Baba is ’n volle week oud! Almal in die huis gaan moontlik van nou af deeglik van sy teenwoordigheid bewus word. Babas is besonder selfbehep en selfgesentreerd, omdat dit al is wat hulle ken. Hulle verwag van hul ouers om die leiding te neem en hulle in die moets en moenies van die gesinslewe in te lei – wat nogal veel gevra is as jy self wens jy het ’n helpende hand gehad! Dit het nou tyd geword om jou baba te begin dophou om sy herhalende gedragspatrone en uitdrukkingswyses te identifiseer – dit is jou leidrade oor hoe om dié unieke klein mensie te hanteer.

Meer oor Baba

Gebruik hierdie beproefde wenke as jou baba veeleisend, vitterig, knieserig en on­rustig is.

•Vra jou lewensmaat of ’n familievriend om jou 2 uur lank te laat rus ná ’n voeding deur Baba op te pas. Hy sal nie so gou weer honger raak nie, en ’n wandeling in die tuin of om die blok terwyl jy rus, kan dalk help om die bose kringloop te verbreek.

•Bad saam met jou baba. Speel agtergrondmusiek en laat haar drink tot sy kalmeer, terwyl jy haar lyfie teen jou vashou en haar met ’n waslap bedek wat die warm badwater sal absorbeer. Sorg dat haar onderste oor nie onder die water is nie, maar moenie bekommerd wees dat sy uit jou arms sal glip nie – jou instink sal dit voorkom.

•As sy van die bors af wegdwing of haar kop vinnig heen en weer draai, kan jy haar kop liggies in jou hand vashou en aan jou bors in posisie hou.

•Verbreek die spanning in haar arm as sy haar lyfie van jou af wegdruk deur haar jou vinger te laat vasgryp.

•Stap rond terwyl jy Baba laat vassuig en hou aan beweeg tot jy die lyfie voel ontspan. Daarna kan jy gaan sit om verder te voed.

•Druk homeopatiese Sister Lilian Chamomilla-tablette fyn, voeg ’n bietjie melk by of gee 3 maal per dag met ’n skoon vinger om Baba natuurlik te laat ontspan.

Wenke vir Ma

•Sorg dat jy genoeg vloeistof inneem, verkieslik in die vorm van water, rooibostee en flou kamilletee. Maak ’n fles op ’n slag en hou dit byderhand terwyl jy borsvoed, aangesien jy dan dorser sal raak.

•Neem kennis van enige bekkenpyn, veral gepaard met ’n onwelriekende vaginale afskeiding en koors. Dit mag ’n teken van infeksie wees of dat daar ’n stukkie plasenta in die baarmoeder agtergebly het. Raadpleeg jou vroedvrou of dokter as hierdie simptome voorkom.

•Bespaar jou energie deur bevrore gaar maaltye te gebruik of enige hulp in dié verband met dank te aanvaar – dit is een terrein waarop vriende en familie van groot hulp kan wees.

•Bederf jouself met ’n tuispedikuur terwyl iemand anders na Baba kyk – jy sal sommer beter voel, en dis wonderlik om weer aan jou tone te kan raak!

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх