Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 7

DAG EEN

Оглавление

Die eerste 24 uur van ’n baba se lewe is ’n grootse en betowerende tyd. Al wat jy wil doen, is om na dié klein skepseltjie te staar en elke besonderheidjie in te drink, terwyl jy in verwondering toekyk hoe hy ontluik en die kollerige velletjie daardie perfekte voorkoms kry. Baba sal haar ogies oopmaak en na jou terugstaar, mits die lig nie te skerp is nie. Jy mag moontlik nog op ’n hormoonwolkie rondsweef en glad nie lus voel om te slaap nie, al het jy voor die geboorte soveel daarna uitgesien! Beleef bloot elke oomblik, rus met Baba styf teen jou en klop jouself op die skouer dat jy jou so goed van jou taak gekwyt het.

Meer oor Baba

•Baba se geslagsdele en borsies mag dikwels tot ’n week of langer ná die geboorte geswel bly. Dit is geen rede tot kommer nie, maar bloot ’n reaksie op die swangerskapshormone.

•Baba sal vandag óf baie slaap óf verwonderd na die wye wêreld staar.

•Baba sal ’n paar taai, groenswart stoelgange passeer – dit is die mekonium wat die spysverteringskanaal gedurende die swangerskap gevul het. Gebruik baba­olie om dit af te vee en was daarna die boudjies met seepwater.

•Tensy jy of Baba nie gesond is nie, sal jy jou baba gouer beter leer verstaan as julle sommer van die begin af in dieselfde kamer slaap.

Borsvoeding

•Sit Baba so gou moontlik ná die geboorte aan die bors om die beste moontlike grondslag vir borsvoeding te verseker – as dit binne die eerste 2 uur kan gebeur, sal dit alle toekomstige voedings vergemaklik.

•Melk ’n druppel of twee uit sodat Baba kan ruik waar om vas te suig.

’N SEUN OF ’N DOGTER?

Ek gebruik deurgaans in hierdie boek die vorme “hy” en “sy” om die beurt om aan te dui dat ek na seuntjies én meisietjies verwys. Dit word gedoen om die omslagtige formulering “hy of sy” en “sy of haar” te vermy.

•Sorg dat Baba behoorlik vassuig om seer tepels te voorkom. Hou haar lyfie so dat sy na jou kyk – nie op haar ruggie nie, want dan moet sy haar nek teen ’n hoek draai om by te kom. Raak met jou tepel aan haar lippe en wange om die soekrefleks te prikkel en druk haar ken met jou vinger af sodat haar mond groot genoeg oopmaak.


•Die eerste paar suigbewegings mag dalk pynlik wees, maar dit behoort gou verby te gaan en dan behoort jy geen pyn te voel nie. As die pyn voortduur, kan jy jou vinger by die mondhoek indruk en met ’n draaibeweging die suigkrag ver­breek. Plaas Baba dan opnuut in posisie.

•Moenie die horlosie dophou tydens voe­dings nie en laat Baba toe om na hartelus te drink solank jy nie pyn het nie, en jy sterk, ritmiese bewegings van die kakebene sien en slukgeluide hoor.

•Baba mag vandag dikwels of selde drink. Dit hang van baie faktore af, soos of jy medikasie ge­kry het gedurende die kraamproses, die duur van die kraam en Baba se grootte.

•Moenie bottels water of melkformule aanbied tensy dit medies noodsaaklik is nie (byvoorbeeld as jy ’n diabeet is), en dring aan op ’n oortuigende verduideli­king as jy aangeraai word om aanvullende voedings te gebruik, aangesien dit die sukses van borsvoeding kan beïnvloed.

•Raadpleeg die afdeling oor borsvoeding vir meer uitgebreide bors­voedings­wenke.

Wenke vir Ma

•Rus vandag kort-kort, maar wikkel jou tone en voete om die bloedsomloop te stimuleer.

•Bad of stort ’n ruk ná die geboorte en trek ’n mooi nagrok aan om jou selfver­troue ’n hupstoot te gee.

•Drink vandag elke 2 uur Rescue Birth & Recovery-tablette en homeopatiese Arnica D6-tablette om swelling te verminder ná vaginale en keisersneegeboorte.

•Dra die eerste dag of twee ’n “pasgebore”-weggooidoek of spesiale sanitêre kraam­doekie in ’n stewige, gemaklike broekie om die logie (bloeding ná ge­boorte) te absorbeer.

•Jou baarmoeder sal die eerste drie dae sametrekkings kry elke keer dat jou baba begin drink. Dit is effens pynlik, maar duur nie baie lank nie en dien die nuttige doel om bloeding te verminder.

•As jy wil urineer, gaan sit met jou gesig na die toiletbak en giet ’n beker warm water oor jou om ’n brandgevoel te voorkom.

•Gebruik ’n bidet nadat jy toilet toe was om infeksie te voorkom.

•Sit op ’n papperige, oorgetrekte swemring om die drukking op jou perineum te verlig.

•Om ongemak ná ’n keisersnee te voorkom, kan jy jou vingers inmekaarvleg en jou wond ondersteun wanneer jy hoes, lag of beweeg.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх