Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 4

Оглавление

Inleiding

Ouerskap kan soms ’n duiselingwekkende vooruitsig wees. Jy mag selfs oorwel­dig voel by die gedagte daaraan om ’n ouer te word; daar is per slot van rekening nie meer omdraaikans nadat jy daardie splinternuwe klein mensie in die wêreld gebring het nie. As jy egter meer dikwels op die silwer randjie van die donker wolk konsentreer en ’n tydjie afknyp om die vele positiewe oomblikke in ’n ouer se lewe te koester, sal die uitdaging dadelik meer haalbaar lyk. Ons leef in ’n tyd van dramatiese veranderinge. Die samelewing het ’n radikale transformasie onder­gaan en situasies en houdings is nie meer wat hulle in ons ouers se dae was nie. Dink maar aan die volgende ontwikkelings:

•Die feit dat dit nodig geword het dat albei ouers buite die huis werk

•Die gebrek aan onmiddellike ondersteuning

•Die talle eksterne invloede waaraan ons kinders blootgestel word omdat ons nie meer so ’n hegte gemeenskap is nie

•Die dissiplinedilemmas eie aan ’n era waarin rigiede gesagsfigure afgekeur word, maar liberalisme ook nie die oplossing blyk te wees nie.

Dit mag dalk alles vreeslik teoreties klink, maar dit kom daarop neer dat ouers daagliks bekommernisse, kwellings en ’n werklas waarteen geen normale mens op­gewasse sou wees nie, die hoof moet bied. Wat maak jy as jou kind siek is, maar die crèche weier om siek kinders toe te laat, of as jy dringende werks­ver­pligtinge het en Ouma sit in ’n ander stad? Hoe reageer jy as jy ’n enkelouer is en die ander ouer verwerf “Kersvaderstatus”, terwyl jy ná elke besoek met ’n dissi­pline­probleem opgeskeep sit? Gaan jy ooit die eindelose onderbroke nagte en die druk wat die klinieksuster, jou ma en jou skoonma op jou plaas om jou kind sover te kry om in sy eie kamer deur te slaap oorleef? Is daar darem die geringste kans dat jy ooit weer ’n naastenby normale verhouding met jou lewensmaat gaan hê?

Wanneer jy sulke oorweldigende uitdagings in die gesig staar, is daar net een oplossing: kreatiewe laterale denke, innovering – en soms doodgewone ouderwetse wysheid. As julle, Ma en Pa, hiertoe bereid is, kan ek julle verseker dat die proses sommer baie minder pynlik gaan verloop. Die geluk waarmee dit julle harte gaan vervul, sal vir julle energie gee en julle bybly as ’n erfenis van vreugde en ’n oorvloedige bron van wonderlike herinneringe aan hierdie spesiale fase in jul lewe.

Moet dus nie die babajare verbywens nie, en moenie probeer om elke moontlike nuanse van ouerskap te ontduik nie. Herinner jouself eerder aan die baie ander ouers wat al die ondervinding oorleef het. Hierdie gids wil jou metgesel wees en jou help om die uitdagings van ouerskap blymoedig die hoof te bied, van die babadae tot diep in die peuterjare.


Suster Lilian

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх