Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 10

Оглавление

Die jas

Einde Januarie gaan ek Jerusalem toe. Die Kaap is vurig, maar in Jerusalem kan dit sneeu. My Jerusalem-jas met sy pelsmus moet ongetwyfeld saam. Oor die arm. Ben Gurion sal snerpend wees.

In die harwar van die British Airways/El-Al-aansluiting op OR Tambo, worstel ek deur paspoortkontrole en die verskrikking van El Al-sekuriteit met die ewige jas oor my arm. Die vlug is vertraag. Vyf en veertig minute lank trek ek deur die vertreksaal met my handbagasie en die jas.

Uiteindelik is ek op die laaste rolband vliegtuig toe. Tot ek skielik besef ek het nie meer my jas nie. Ek skrik my lam. Soos ’n mal mens hardloop ek teen die stroom op die rolband terug. My handbagasie galoppend soos ’n kalf agter my aan.

“Here!” kreet ek, “hoe kón U dit nou toegelaat het!”

Ek het nie die vaagste benul waar ons paaie geskei het nie. En soos ek Johannesburg ken . . . Ek bid magteloos as paspoort­beheer voor my opdoem, wetende ek moet dáár deur. Oor tien minute vlieg ons. Ek gaan staan as ek die onmoontlikheid van die situasie snap en voel die Jerusalem-wind deur my ribbes waai.

Toe sien ek dit. Waar ’n mens met jou bagasie en al deur die metaalverklikkers kom, staan ’n stoel. Daar lê my bruin jas netjies opgevou.

“Sekerlik, Here, het U dit self gedoen!” snik ek in die sagte pelsmus.

Op ’n dag in Jerusalem gaan ek na die nuwe Yad Vashem, wat pas geopen is. Dis hartverskeurend. Veel ontstellender nog as die oue. Al die swart-en-wit, lewensgrootte foto-getuienis is daar. Maar nou is daar ook talle videoskerms waarop oorlewendes self hulle onbeskryflike verhale oor die helkampe en ghetto’s vertel.

Vyf uur lank dwaal ek langs die ontsenuende dokumentasie, maar dis ’n videoskerm, byna heel aan die einde, wat die baie trane wat ek al gehuil het in één beker bymekaarmaak.

Hy was veertien, vertel die man met die onthou van jare in sy oë, toe hy in Dachau beland het. Met net één oorweging: Hy sóú oorleef. Van sy hele gesin het hy alléén oorgebly. Een nag word hy in sy slaapbank wakker en besef iemand het sy kosbare mus gesteel. Om kaalkop op parade te verskyn beteken één ding: ’n koeël deur die kop. Hy neem ’n moeilike besluit.

By die lig van ’n kaal gloeilampie teen die barakplafon sluip hy langs die eindelose rye slaapbanke. Tot hy uiteindelik op één bank ’n mus effens onder ’n kombers sien uitsteek.

Die volgende oggend op die paradegrond wag hy. Tot hy die skoot hoor. Een skoot.

“Ek het nie omgekyk nie,” sê die verwese ou man sag. “Hoe moes ek die res van my dae leef met sy gesig voor my?”

Met trane wat op my wange droog word, loop ek soos ’n houtpop tot aan die einde van die lang, skemer saal. Ek kom onverhoeds in die daglig uit op ’n breë balkon wat oor Jerusalem uitkyk. Vir ’n paar oomblikke staan ek soos een wat droom. Maar toe skok die ysige lug my tot lewe. Ek kyk op. Op die wind wat deur die dennebome suis, dryf silwer vlokkies sneeu.

Ek vou my dik jas dankbaar om my lyf en trek die pelsmus oor my kop. In die warm geborgenheid hoor ek die Here sê: “Ek sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Kyk, Ek maak alles nuut.”

Lewensblik

Подняться наверх