Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 18

Оглавление

’n Nuwe jaar

Dit betrap ’n mens soms byna onverhoeds.

Nog verruk van sinne en geskok van beursie ná die uitgelatenheid van die “feesseisoen”, dink ons meermale oppervlakkig oor die nuwe jaar na.

As deel van ’n Messiaans-Joodse gemeente het ek dié verjaring op ’n nuwe manier leer ken. Rosh Hashanah heet dit – “Kop van die jaar”.

In 2006 het dit op 23 September geval, en volgens ’n Joodse dag reeds met sonsondergang die vorige aand begin.

Nes ons met Nuwejaar doen, trek families saam. Wanneer ek die voorafgaande opruiming en voorbereiding gadeslaan, herinner dit my om gereed te maak vir die jaar wat aanklop.

Dan breek Erev Rosh Hashanah aan en op pad na die groot Maraisweg-sinagoge in Seepunt roep die Jode mekaar toe: “Mag jou naam in die Boek van die Lewe geskryf word!”

En ek wat na ons eie klein byeenkoms twee strate verder stap, sing dankbaar ’n lied tot Hom wat verseker het dat my naam wél daar geskryf staan.

Vanaand dra die Joodse mans ’n gebedsjaal en spesiale wit kippah. God se Naam is op ’n tallit geborduur en ontroer sien ek hoe hulle dit soen voor hulle die sjaal om hulle slaan. Byna almal is in wit geklee – as teken van nederigheid voor die Ewige Koning.

Die geruis van stemme en blye uitroepe van weersiens is vanaand gedemp. Oor die gemeente hang ’n eerbiedige bewustheid van die begin van die tien Dae van Ontsag wat tot die Groot Versoendag lei. Dié dae waar daar laag voor die Here gebuig en boete gedoen word vir die male sonder tal wat sy heilige verordeninge oortree is.

Aanvanklik was dit vir my vreemd hoe belangrik dit in Judaïsme is dat as daar onenigheid tussen jou en ’n ander is, jy dit eers dáár moet regmaak voor jy dit voor God kom bely. Soos ek daar sit, kom die besef dat ek my ouers, my kinders, my broers, my suster nie om vergifnis gevra het vir die kere wat ek hulle miskien vanjaar nie met genoeg respek en liefde behandel het nie. Dat ek nie in my man se oë gekyk en bely het dat ek nie genoeg tyd vir hom gemaak het nie. Ek onthou mense met wie ek geïrriteerd was.

En wat van Hom, die Allerhoogste, wie se heiligheid ek meermale deur my onvanpaste uitsprake en die kritiese woorde wat oor my lippe gekom het, verontagsaam het?

“Here . . .” fluister ek vir Hom, “gee in u groot genade dat ek in hierdie nuwe jaar na élkeen wat oor my pad kom, sal kyk met die wete dat dit iemand is wat u beeld verteenwoordig. En dat ek daarvoor ontsag sal hê.”

Die klaende geluid waarmee die ramshoring die einde van die diens aankondig, laat my onwillekeurig dink aan die Ewige se droefheid oor ons rebelse weë.

Dan sny die skerp, kort shofar-tone deur my. En ek onthou dat Rosh Hashanah se ander naam Yom Teruah is – Dag van die Trompet. Daardie trompet wat ook die Messias se terugkoms sal aankondig. My hart word onuitspreeklik lig.

Buite op die groot balkon wink vrolike tafels eetgoed. As ons appelskyfies in heuning doop, roep ons mekaar toe: “Mag die jaar goed en heuningsoet wees!”

Ons breek die granate oop en sing: “Mag ons goeie dade in hierdie jaar so oorvloedig soos hierdie pitte wees.”

My vriendin vang my oog. Waar’s die dae toe ons die nuwe jaar op maat van Auld Lang Syne in gedans het? Argeloos . . .

Ver onder ons streep die maan silwer oor die skuimende branderkoppe. ’n Nuwe jaar het gekom.

Lewensblik

Подняться наверх