Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 16
ОглавлениеDie boekrol
Ná jare se spaar en lang soektogte op die internet kon Beit Ariel, ons Messiaans-Joodse gemeente hier in die Kaap, uiteindelik ’n goeie, respektabele en bekostigbare Tora-rol koop.
Dis ’n hele 150 jaar oud en uit Oos-Europa afkomstig – ’n kopie van die eerste vyf boeke van die Ou Testament in die oorspronklike Hebreeus of Aramees, noukeurig met die hand op vergeelde perkament geskryf.
Dié kosbare boekrol word soos ’n bruid in die gemeente verwelkom. Die voorganger – seremonieel in blou, wit en silwer tallit – blaas die shofar en vier vroue in feestelike silwer en blou dans sierlik tussen die gemeente deur op die fyn klanke van ’n viool. In albei hande dra hulle ’n brandende lig. “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad . . .”
Dan kom die “bruid” uiteindelik aan. ’n Ouderling bring die Tora-rol binne, byna so groot soos hyself en swáár. Hy dra dit na die béma. Aan die kop-ente van die rol pryk pragtige silwer kokers waaraan klokkies dans. Die rinkel van die silwer instrumentjies versmelt met die silwer note van die viool.
Terwyl die gemeente Bar’chu et Adonai sing, word die Tora-rol in die houtkas agter die béma geplaas. Ontroer herhaal ons die eeue oue Hebreeuse gebede ter ere van die Allerhoogste en sing. Dan haal die ouderling weer die boekrol uit en plaas dit op die béma. Daar rol die voorganger dit by die week se parashah oop en lees ’n gedeelte in Hebreeus voor. Hy gebruik die jad as leeswyser, versigtig om nie die 150 jaar oue boekrol met sy hande te beskadig of vuil te maak nie.
As die Tora-rol by ons verby teruggedra word, steek mense hul hande uit, raak dit aan en soen dan hul vingers. Die silwer klokkies rinkel sag.
Trane verblind my. Ek draai na my vriendin langs my. Ons oë ontmoet. Ons onthou die dag in Jerusalem met Simchat Torah. Hoe ons by die Kotel tussen honderde ander gedans het. Here, hoe lief het ons u woord!
Dis om van te juig saam met die psalmdigter in Psalm 119. “Oor u woord is ek so bly soos iemand wat ’n groot skat in die hande gekry het. In u wet vind ek my vreugde. U woord is baie suiwer, ek het dit lief. U wet is vir my kosbaarder as ’n oorvloed van goud en silwer. Selfs in die middel van die nag staan ek op om U te loof vir u regverdige bepalings. Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. In u wet vind ek my vreugde. U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel. Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie. Op u woord kan ’n mens hom geheel en al verlaat. As ek my nie in u wet verlustig het nie, het ek omgekom van ellende. U voorskrifte is vir my ’n lied in my lewe hier op aarde. Hoe lief het ek u wet.” Dit is maar ’n paar van sy ekstatiese uitinge.
“Maar julle aanbid dan ’n Skrifrol pleks van God self!” sê iemand verontwaardig toe ek van die toewyding van die Tora-rol vertel.
Nee, nee, honderdmaal nee! Dis alleen maar heilige respek vir die Woord, vreugde by die aanskoue van die fisieke simbool. Maar dis in Hom, die Lewende Woord, waar ons groter vreugde lê.
As die psalmdigter Hom maar kon ken, hoe groot sou sy ekstase dan gewees het!
Here, hoe lief het ek dié Woord.