Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 11

Оглавление

Man van min woorde

Hy kom so stil die studeerkamer in dat ek niks voor die rekenaar agterkom nie. Eers toe hy my naam sê, besef ek hy’s daar. “Ek wou jou nie stoor nie,” sê hy, “maar ek kry hom nie dat hy heeltemal reg opvang nie.” Dis my pa. Pappa. Sy naam is Roi. Hy het my radio/CD-speler in sy hand.

Die middaglig teken hom teen die raam af. Sy silwer hare, sy liewe gesig, sy hande met die breë troupant. Hy het makulêre distrofie en kan beswaarlik sien. As hy en Stella, ons tweede “ma”, jaarliks uit Oos-Londen kom kuier, gebruik hy my draagbare radio. Van wat in die wêreld aangaan, mis hy op 88 niks. Ons vra hóm as ons iets van internasionale sake wil weet. Of wat die Engels vir enige woord is.

Later sien ek hom op die stoep sit en radio luister. Sy kop agteroor geleun, hande rustig op sy knieë, die radio só ingestel dat net hy kan hoor. Trane maak my blind. Hoe ontsettend lief was hy nie vir lees nie. Alles van belang verslind waarop hy sy hand kon lê. Motorry het hom na aan die hart gelê en ons het die land deurkruis. Tydrenne was ’n stokperdjie, as bestuurder en as navigator.

En toe vat dié oogsiekte hom in sy vroeë sewentigs aan. Maar ek het hom nooit hoor mor of gefrustreerd losbrand nie. Met dieselfde geduld waarmee hy ons almal met die ou Jeep op Oupa Karoo se plaas leer bestuur het, my in die hoërskool help wiskunde doen het, na ons tiener-ellendes geluister het, het hy homself sonder oë leer lewe.

Met dieselfde liefde waarmee hy kleintyd langs my bed vir my sit en voorlees het as ek nie kon slaap nie, het hy ná my ma se dood op 75 sy nuwe vrou soos ’n koningin ontvang. Ek hou hulle dop as hulle hul ingewikkelde blokraaisels eindeloos doen. Sag eenkant waar hulle niemand pla nie, sit hulle, gryskoppe dig bymekaar. Dierbaarder vriende moet ek nog teenkom. Sy spel vir hom die leidrade van die Afrikaanse woorde in Engelse letters uit. Hy dink ’n oomblik met toe oë en geplooide lippe na. Dan kom die woord.

Ons is ’n familie van blitsige emosies, geneig tot histerie. My pa is ’n man van onverstoorbare gees, min woorde. Net af en toe bestyg hy, soos ons sê, sy praatstoel. Dan vertel hy wonderlike verhale van sy jeugjare as pastoriekind in Namakwaland. Of hy onthou een of ander geskiedkundige gebeurtenis ongelooflik akkuraat. Politiekgewys was hy die land lank vooruit.

Alles wat hy doen, is nog net so presies soos vroeër. Hy vra my om die selfoonlaaier in sy tas te gaan haal. Daar kom ’n knop in my keel. Sy waslappie is netjies opgevou in ’n plastieksakkie gebêre. Die laaier se draad sorgvuldig opgerol. Die houertjies van sy gehoorfoontjie presies langs mekaar ingepak.

Ek sien hoe geduldig hy my hiperaktiewe vyfjarige kleindogter herhaaldelik laat luister na sy pratende horlosie wat die tyd aangee. Ek kyk hoe hy haar handjie in syne toevou, en in haar oor fluister waar hy sy droplekkertjies wegsteek. Haar gesiggie verhelder met soveel blinkheid dat ’n oomblik uit my kleintyd by my opkom. Hy moes ’n tyd lank van die huis weggaan. Toe gee hy my die mooiste goue armbandjie met die woordjie “d-e-a-r” wat in vier goue letter­hartjies daaraan hang. “Dit staan vir: Dink elkedag aan Roi,” het hy verduidelik.

“Hoe het jy die Here met soveel oorgawe liefgekry?” vra ’n vriendin my op ’n dag.

Ek het Hom in my pa geken voordat ek geweet het wie Hy was.

Lewensblik

Подняться наверх