Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 7
ОглавлениеDie Here van die kiewiete
Ek gaan met die honde in die rooi aandskemer stap. Plotseling klink ’n skril kreet in die lang gras voor ons op. Op dun oranje beentjies pyl ’n bont kiewietjie oor die veld. Ek hou die honde teë, loop ’n wye draai om twee gespikkelde eiertjies, weerloos in die sand. ’n Paar treë verder sien ek die kiewiet-ma waar sy bibberend in die gras waak.
Sonder waarskuwing vervul diepe verwondering my, so intens dat trane my verblind. “O Here, Here, hoe onbeskryflik groot is U deernis! U wat die magtigste oseane, die verste berge gemaak het, U hand is oor hierdie fragmentjie lewe.”
Algaande kom ’n gedagte tot my. Dié van ’n lêer in my studeerkamer se liasseerlaai. Een met die etiket: Armand/Angola. Daar-in is die briewe wat my seun vir my geskryf het toe hy in die bosoorlog was. En sy dagboek. Ek draai kortom met die honde en gaan terug.
Toe hy uiteindelik weer by die huis was, kon twee wassiklusse nie Angola se vuil uit sy klere haal nie. So anders as die vrolike kind, was hy maer, bleek, donker om sy oë. Stil. Op ’n dag bring hy die dagboekbladsye vir my. “Niks verder praat nie,” sê hy. En hy het nooit.
Die vergeelde blaaie is vuil van vingermerke en stof. Ek vind dat ek nie meer as enkele frases kan lees nie. Die skrik en die verlang van daardie vreeslike weke toe ek nie geweet het wat van hom geword het nie, is meteens vlak by my.
“Ek is onbeskryflik vuil . . . My sokkies is al so hard dit skawe my stukkend. Ek is baie moeg, die hele nag ry ons – niemand weet waarnatoe nie, niemand weet waar die vyand is nie – bedags is dit te warm om te slaap . . . Vreemd om te weet ons is 3 000 km van die huis af . . . Ek verlang baie na julle . . . Ek is bang ek word siek, ons leef baie vuil . . . Ek dink ek het nierinfeksie, want my niere is baie seer van die verskriklike paaie wat ons ry. Hier is baie landmyne . . . Ons water is op . . . Ek het nog net kos vir vandag en môre . . . My sigarette en toiletpapier is klaar . . . Laat hulle ons nou maar aanval. Ek voel niks meer nie. Ek bly honger.
“Dis nou 11 dae dat ek nie gewas het nie. Die wêreld is besaai met ratels. Was dit nie vir hulle nie, was ons seker vandag almal dood. Vandag is baie van ons mense dood . . . Ons is nou al 48 uur sonder kos . . . Ek mis julle . . . Ons het meer as ’n maand laas pos gekry . . . My hart gaan staan elke keer as die bomme so om ons val . . . Dis nou al byna 3 maande dat ek op die grond slaap . . . As ek my net kan was . . . !”
Hoeveel van daardie vreeslike maande skuil agter sy stil oë? Wat het met hom gebeur wat ek nooit sal weet nie? Moes ek hom nie in daardie maande nadat hy teruggekom het, ’n duisend maal meer teen my vasgedruk het nie?
Toe dink ek aan die plek waar hy nou woon. Waar lig deur die groot rame oor die ryk skakerings van hout en leer en skilderye val. Waar die badkamers met die groot handdoeke glanswit is. Waar ’n kas vol sagte hemde en truie hang en musiek die vertrekke vul.
En ek weet die Here van die kiewietjie kon ook my kind se siel bewaar.