Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 8
ОглавлениеVreugdedans
Dis Shavu’ ot 2004. Ons is in die Ou Stad, Jerusalem. In die vorige weke was daar drie verskriklike terroriste-aanvalle. ’n Roukleed hang oor die stad, koerantop-skrifte is somber, soldate patrolleer oral, selfs die plein se kinderstemmetjies klink gedemp.
Vanaand is dit Erev-Shavo’ ot en Zona en ek klim tussen hordes ander die lang trappe af Kotel toe.
En daar in die goue namiddaglig word gedans! Wye sirkels mense van allerhande oortuigings haak spontaan by mekaar in en dans met alle mag. Ons sien swart manelle en hoede wat met een hand vasgeklou word, bengelende oorkrulle, sober geklede vroue met hoofbedekkings, uitbundige Yeshiva-studente, kinders met kippahs en kurktrekkerkrulle, soldate in uniform, gewere aan die skouer, plegtige rabbi’s, baarde op die bors, en onwennige toeriste almal meedoen.
Klein-klein voëltjies swiep en tjir van plesier oor die dansers heen. Teen die eeue oue klippe van die Klaagmuur blom die struikgewasse.
“Kom,” gryp Zona my hand, “ons kan nie net hier staan nie!”
Hier waar ek voor my rekenaar sit, dans my siel ook van- môre met oorgawe voor die Here. Al is ek net met die skamele kleed van my feilbaarheid omgord, bewe ek van blydskap. Oor ek ’n losgekoopte is! Oor die Ewige Vader sy Seun op die altaar gelê het om my los te koop, straal ek van vreugde.
“Die vreugde van die Here is my sterkte,” het Dawid gesê.
Hy lê my na aan die hart. Sy lofpsalms kan my op dae van koue siel weer verlewendig tot die Here. Hy wat met net ’n skouerkleed aan vol oorgawe voor die Here kon dans. As die suur Mikal hom voor die ark sien spring en dans, hom smalend toevoeg: “Hoe waardig het die koning van Israel hom vandag gedra!” sê hy eenvoudig: “Voor die Here sal ek dans’.”
Daardie dans voor die Here het Dawid se nageslag nie afgeleer nie. Hulle dans steeds met oorgawe voor Adonai. In die vreugde van ’n huwelik, maar ook in die diepte van rou.
Waarom sou ’n mens tog geneig wees om so somber oor ons Here te dink? Ek sien dit tog nie in sy Woord nie . . . Blaai jy deur die psalms kom jy frases teë soos: “My hart jubel . . . met vreugdeolie gesalf . . . U het my hart bly gemaak, Here! U woord is die vreugde van my hart!” Daar is sprake van bome wat hande klap en berge wat jubel. Jesaja borrel letterlik. Hy roep berge en bosse op om in gejubel uit te breek. Hy sê dat Jerusalem sal straal van vreugde en bewe van blydskap! Selfs die droewe Jeremia praat van ’n siel wat soos ’n tuin sal wees.
Die Here het mý hart bly gemaak oor duisend dinge. Oor my man wat vreugde daarin vind om môre vir môre, jaar in, jaar uit, ysige swembadwater aan te vat en soos ’n dolfyn daardeur te duik. Oor ’n hartsvriendin wat op die dag toe haar man ses maande dood is, haar kleinseun in haar arms vang, haar hond teen haar vasdruk en lag . . . Oor my pa wat op agt en tagtig vir my oor die telefoon vertel hoe lief hy sy vrou het. Oor die heilige Woord wat die vreugde van my hart is. Oor die Sabbat wat die Here ingestel het sodat Hy weekliks met ons kan ontmoet. En oor Hom wat die finale Sabbat sal wees, die sewende dag van rus en verkwikking vir die hele aarde.
Voor die Here sal ek dans!