Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 3

Оглавление

Rooi papawers

In Mei bars daar donsige ligpers en geel blommetjies deur die struikgewasse wat soos ruie wenkbroue op ’n ou man se gesig uit Kotel* se klippe groei. Voorjaar! Mossies tjier onvermoeid tussen hulle deur. Om my wieg sobergeklede Chassidiese vroue, gebedeboek in die hand, eindeloos muurwaarts. Anderkant die afskorting davven die voorste ry swart hoede met dieselfde ritme teen die klaagmuur. Net hier en daar dobber ’n veelkleurige kalotjie tussendeur. Seuntjies, swiepende klossies, bengelende oorlokke en kalotjies wat wonderbaarlik nie van hul koppe val nie, jaag mekaar oor die plaveisel tussen die bidders deur.

In ’n groef in die eeue oue klippe sit ’n duif stil oor die toneel en uitkyk. Dis die stilte van dié eensame duif wat David Hatuel se gesig weer voor my laat opdoem. Jerusalem se milde voorjaarslug word kil op my rug.

Vanmôre was daar in ’n tydskrif ’n foto van David by sy vrou en vier dogtertjies se begrafnis. Drie weke later steier die land nog. Die joernalis se ontroering was voelbaar. Meirav, die tweejarige, was veiligheidshalwe in haar kinderstoeltjie vasgegordel, skryf sy. Maar kinderstoeltjies bied nie beskerming teen koeëls nie, en teen die tyd dat die reddingswerkers die stasiewa bereik het, was Meirav dood. So ook haar sewejarige suster, Roni. En Hadar die negejarige. En Hilal, elf.

Agter die stuurwiel was hul ma ook dood. Tali Hatuel, 34, was ’n welsynswerker wat dikwels slagoffers van terreur moes troos en bystaan. Sy was agt maande swanger met haar eerste seuntjie en op pad Askelon toe vir ’n sonar. Daarna wou sy en die dogtertjies David ontmoet by ’n byeenkoms van mense wat Israel se onttrekking uit Gasa teenstaan. Die Hatuel-gesin is per slot van rekening inwoners van die Gush Katif in Gasa.

David sou sy vrou en dogters nooit weer lewend sien nie. Dieselfde Sondagaand, 2 Mei 2004, begrawe hy hulle. Omring deur duisende roubeklaers huil hy ontsettend: “Ek is heeltemal alleen, daar het niemand oorgebly nie.”

Ek baan my weg versigtig deur die biddende, wiegende, or­to­dokse vroue heen. Van anderkant die afskorting waar ’n bar mitzvah begin het, kom die diep stemme van kantors wat voorsing. By die muur, my hande teen die koel stene, bring ek David Hatuel in sy onbeskryflike ellende voor Adonai van Israel.

Maar toe ek later terugstap tussen die mense deur, bly my hart verslae oor die verskrikking wat hier voortduur. Woorde van ’n Nederlandse geestelike kom by my op: “God is niet grijpbaar, daarom vergrijpt men zich aan zijn volk”.

Laatmiddag is die klippe roesbruin in die laaste lig. Skadu’s begin hoër teen die muur kruip, net bolangs nog streep die son goud. In die klipgroewe nestel die duiwe teen die wind. As ek ’n jong vrouesoldaat snikkend teen dié klaagmuur sien ineenkrimp, draai ek weg. “Waarom moet die heidene sê: ‘Waar is hulle God nou?’ ”(Psalm 79:10).

Die trappe terug na die Joodse buurt is meteens baie, die luggie skraal oor die Hurva-plein. Toe gaan ek botstil staan. Teen een van die verwoeste mure van die eens pragtige Hurva-sinagoge bibber twee bloedrooi papawers op die sagte wind. Selfs in die laatlig gloei hulle. Voorjaarslewe!

Hy lééf, onthou my droewe hart meteens. Hy, ons Messias, is ook hul Moshiach. Hy kom terug, Hy kom regeer. Hy sal die trane afdroog. Ek vou David Hatuel in my arms toe, ek druk sy verwese gesig teen my skouer vas. “Kyk, dis voorjaar,” fluister ek, en my eie hart word lig, “Hy leef en ons sal leef!”

* Raadpleeg die woordelys agter in die boek vir die betekenis van Hebreeuse woorde.

Lewensblik

Подняться наверх