Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 15
ОглавлениеAmandelbloeisels
Middel Julie vanjaar met die Kaapse winter op sy guurste, vlam oorlogsgeweld in die Midde-Ooste op. Beelde van geweld en lyding flits meedoënloos oor die televisieskerm, staan swart in koerantopskrifte.
Ek sit ineengedoke voor die televisienuus, maak die koerant met huiwering oop.
“Here, Here!” roep my benoude hart dag ná dag soos die geweld toeneem en uitbrei en die menslike nood aan albei kante verdiep. “Praat asseblief met my! Sê vir my wat aangaan . . . !”
Begin Augustus word dit erger. Op ’n môre kom ek, rou geskok deur die stroom e-pos-berigte wat oor my rekenaar se monitor spoel, buite. Toe sien ek dit.
Die prilste van voorjaarstekens het soos elke jaar na my tuin toe gekom. Sneeuklokkies knik hul koppies moedig in die skraal windjie.
Ek pluk ’n takkie. Aan die lang groen stingel bengel die delikate klokkie met sy ses wit kroonblaartjies, ’n groen stippeltjie op elkeen se punt ter finale versiering.
Onbeskryflik broos het hulle behoue gebly in die stormagtige laaste Kaapse winterdae.
Dit bring bykans dadelik ’n ander beeld helder in my gedagtes na vore. Toe ek in Januarie in Jerusalem was – midde-in hul winter – het die amandelboom spierwit in die blom gestaan. Ysige sneeuvlae en wind oor die stad ten spyt.
Nes die sneeuklokkie, hier is die amandelboom dáár ’n teken dat die voorjaar wag om oop te bars. Amandelboom – eerste om te bloei, maar die laaste om sy vrugte voort te bring. Eerste en laaste – Alfa en Omega.
Sneeuklokkies in die hand, Jerusalem se amandelbloeisels voor my geestesoog, onthou ek meteens vir Jeremia. Daardie droewe ou profeet van God. Toe die Here hom roep, vra Hy: “Wat sien jy, Jeremia?” En die wenende antwoord: “Ek sien ’n amandeltak.” Waarop die Here reageer: “Jy’t reg gesien. Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.”
Ek skrik toe ek dié woorde onthou. Ek gaan terug die huis in. Na my bidplek toe. “Wat staan U gereed om te doen?” vra ek, ontstellende oorlogstonele lewend voor my. Eers hoor ek niks. Sodat ek myself tot bedaring maan. “Wág op die Here!” het Dawid gesê. Toe eers begin sy geliefde stem tot my deurdring.
Eers verstaan ek dit nie, want wat ek hoor is die Sh’ma, die gebed waarmee gelowige Jode die dag begroet wanneer hulle wakker word. “Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here . . .”
“Waarom sê U dít vir my?” vra ek bewerig.
“Oor die amandeltak en die sneeuklokkies,” hoor ek Hom in my hart sê. “Ek verander nooit. Ek is die begin én die einde.” Ek loop weer buitentoe. Nou sien ek ook die son wat in die wintergroen juig. Die tortelduifies wat knikkend in die gras pik. Die eekhorings se pluimsterte wat teen die wind dans. My twee honde kom na my toe en ek vryf hul sagte ore tussen my vingers. Shlomo, die Siamees, rek hom behaaglik in die son en kyk na my met sy blou-blou oë op skrefies.
En al die tyd bly die Woord by my. “Ek is die begin én die einde. Niks sal handuit ruk nie. Laat die oorlogsgedruis maar woed, Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.”
Skielik is dit nie meer vir my nodig om te weet wat dit is wat Hy in hierdie situasie gaan doen nie. Want ek wéét Wie Hy is – die Begin en die Einde.
Die enigste Here.