Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 19

Оглавление

’n Veilige plek

Met die Valentynstyd in gedagte kom die storie van Tante Linneke en haar kat by my op.

My Hollandse man het dié storie saam met hom gebring. In die Tweede Wêreldoorlog se Hongerwinter van 1944-’45 word Tante Linneke, wat alleen met haar kat in Amsterdam woon, desperaat toe sy besef haar skamele voedselrantsoen kan nie meer vir Cornelius ook onderhou nie.

Eerder as hom van honger te laat omkom, sou sy hom moes wegmaak.

Maar hoe jou getroue, enigste oorgeblewe metgesel “wegmaak”?

Geld vir veearts is daar uiteraard nie, vergiftig kan sy nie. Versmoor? Nooit! Ná smartlike oordenking besluit sy al waarvoor sy kans sien, is om Cornelius in die grag te verdrink. Verskriklik soos dit ook al mag wees. Uiteindelik skraap sy elke vesel moed bymekaar, wikkel die kat stewig in lap toe, bind tou om. Probeer nie dink waarmee sy besig is nie.

Met hom in die saalsak van haar fiets ry sy tot by die naaste grag, haal diep asem, gooi die wriemelende pakkie in die water.

Traanverblind vat sy die pad terug huis toe, sonder om weer te kan omkyk. In haar binneste knaag verwyt meedoënloos.

Verbygangers wat die droewig wenende vrou op die fiets sien, haal die hoed respekvol af: “Sekerlik ’n vader of broer in die oorlog verloor.”

Maar siedaar, toe sy voor haar huisie van die fiets afklim, wie wag haar in? Niemand anders nie as Cornelius self! Hy sit hom verontwaardig op die stoepmatjie en was. Sommer kortpad huis toe gevat.

Oorstelp van dankbaarheid gryp sy die nat kat vas om hom nooit weer te laat gaan nie.

Vir die res van daardie bitter winter deel Tante Linneke eenvoudig elke krummel met Cornelius. Dit bring hulle op die randjie van verhongering, maar hulle haal albei die einde van die oorlog lewend.

Waartoe stel die liefde ’n mens tog in staat?

Met die koms van die voorjaar verskyn iets wonderliks in ons tuin. Jare lank al voer ons daar lemoenduifies en eekhorings, sodat ons al mak geraak het vir mekaar. Ons astrante Siamees, Shlomo, en twee onstuimige Jack Russells, Sarah en Sandy, ten spyt.

Iewers in verlede jaar sluit vier tarentale by ons diereversameling aan. Soggens vroeg hoor jy hulle soos ’n droë windpomp voor die kamervenster kners. Later raak hulle so hans dat hulle teen die glasdeur kom pik tot ons wakker word. Maar met die koms van die voorjaar verdwyn al vier meteens. “Seker beter weiveld gevind,” sê my man lakonies. Tot hy my twee weke later opgewonde roep.

Daar op die grasperk loop ons tarentale met tien fraai kuikentjies wat op dun oranje beentjies agter hulle aanhol. Dis tóé dat Shlomo reken hier vang hy vanmôre ’n voël wat nie kan vlieg nie.

Hy het hom nog nie behoorlik platgetrek vir die spring nie, of Vader Tarentaal lig sy vlerke en storm krysend. Ek het my arrogante kat nog vir geen hond die aftog sien blaas nie. Maar vanmôre vlieg hy vinniger as ’n jagluiperd die seringboom op.

Maar blitsiger nog as Shlomo, het Moeder Tarentaal haar vlerke gelig en verdwyn die kuikentjies daaronder. Oombliklik verstom die sagte tjiep-tjiep van die kleintjies wat ’n mens voortdurend hoor.

Ontroering oormeester my as ek daardie woorde onthou: “Jerusalem! Jerusalem! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak . . .”

Wêreld van beangstiging om my, ek ken ’n veilige plek!

Lewensblik

Подняться наверх