Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 9
ОглавлениеLangs die pad
Dis laatsomer . . . Die lug raak herfshelder soos net die Kaap ken. Die uitbundigheid van ’n laaste somernaweek is aansteeklik. Ontspanningsplekke dreun van jong stemme, die see lê wyd onder laaste goue dae.
Soggens ratel die eekhorings aan ons kamervenster. Die wildeganse kras weemoedig ’n laaste groet oor die swembad. Ons duiwe se lente-verliefdheid het hulle verlaat. Hulle verwilder mekaar humeurig uit die boom. Die blare van die welige prieelwingerd raak hier en daar wonderlik rooi.
Ons kuier by ’n vriendin in die noordelike voorstede. Die dag is onverwags warm. Ons baadjies hang oor die stoepstoele.
Laatmiddag sit ons in die soelte buite langs die swembad en drink ’n laaste rooi wyntjie. Die huis se groot boerboel lê by ons voete. Hy kyk stil na twee kwikstertjies wat vlak voor sy neus uit die swembad drink. Toe hulle astrant bly kwetter, maak hy sy oë moeg toe.
Ons praat oor Rien. Oor wat ons van hom onthou. Op dieselfde talmende manier waarmee die laaste sonstrale die water aanraak, vou ons die klein herinneringe van hom oop. Ons lag soms en soms bly ons lank stil.
Dis nou tien maande dat hy so onverwags van ons weggegaan het. Ná net so ’n Sondagmiddagkuier. Ons vriendin het alleen oorgebly. In die huis met sy gul verwelkoming sal ons sy stem nooit weer hoor nie.
Maar die son begin weste toe staan en ons moet huis kry – naweek en dronkbestuurders loop hand aan hand. Ons hou ons vriendin styf vas en bid die nabyheid van Abba-Vader oor haar af.
Op pad huis toe in die suide is die verkeer druk met vrolike naweekgangers wat op die laaste moment terugkeer van uitstappies. ’n Motor met ballonne wat verwoed in die wind wapper, spoed by ons verby. By ’n ander wuif ’n kleintjie naarstiglik deur die agterste ruit. Geen kinderstoeltjie of veiligheidsgordel nie.
’n Motorfiets slinger lewensgevaarlik oor twee bane terwyl die twee tieners daarop onbesorg in die verontwaardigde gesigte van die motoriste om hulle lag.
Van agter kom twee polisievoertuie gierende met flitsende blou ligte aangestorm. Die motors dam soos ’n trop verskrikte skape na die kant van die pad toe. ’n Ambulans flits verby. Nog ’n noodvoertuig raas verby voor die verkeer weer stadig in pas kom.
Die son sink in die rooi see weg en Tafelberg verkleur wonderbaarlik tot diep, donkerblou.
As ons onder een van die laaste brûe deurgaan, sien ek dit. Daar langs die pad lê ’n hond wat omgery is. Op sy sy lê hy. ’n Groot, pragtig-versorgde dier.
“Hou stil! Hou stil!” roep ek sonder om te dink.
My man skud sy kop en ek sien die onmoontlikheid van die verkeersituasie. Ons het nie ’n káns om hier van die pad af te trek nie.
’n Verskriklike droefheid gryp my aan.
Ek dink hoe bitter desperaat en eensaam sy laaste oomblikke moes gewees het. Hoeveel pyn en angs hy daar alleen deurgemaak het voor die dood hom eindelik kom haal het.
Daar langs die argeloos verbysnorkende verkeer het niemand ’n genadehand na hom uitgesteek nie. En noudat dit verby is, is daar ook niks om die skaamte van sy dood te bedek nie.
Toe dink ek aan die Een wie se sterfte in Maart al met vroeë paashase en sjokolade-eiers uitgeblaker word. Wat weer oor die Paasnaweek met groot rumoer en padsterftes herdenk sal word.
Ook Hý het langs ’n pad in eensame angs en onbeskryflike pyn gesterf.
En mense het daar agteloos langs gegaan.