Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 12
Оглавление’n Hoër Rots
Sowat ’n jaar of twee, drie gelede kom daar ’n woord uit Jerusalem wat min of meer sê: “In die dae wat voorlê, sal julle oorweldig word. Maar dit sal nie die werk van Satan wees of die gevolg van julle sonde nie. Julle moenie verwilderd en beangs raak nie.
“Dit is Ek wat julle oorweldig. Ek sal dit doen sodat julle kan leer om jul vertroue in niemand anders te stel nie as in die Rots wat hoër as julle is, die enigste plek waar julle veilig sal wees. Daarom sal Ek alles wegneem waarop julle vertrou en julle oorweldig en leer om stil te wees en te weet dat Ek die Rots is. Ek alleen.”
Ek het dié woord agter in my Bybel geplak. Dit in my hart opgeskryf. Dit met ander gedeel. Maar, helaas, ek het dié woord van die Here nie goed verstaan nie.
Met my het gebeur wat so baie gebeur: “Wonderlik, Here! Ek sal dit met almal deel wat dit nodig kry.”
Min het ek geweet hoe nodig ek dit sélf sou kry. Min het ek geweet wat oorweldig beteken . . .
Aanvanklik het ek ’n prentjie gehad van iemand wat jou van agter met ’n donskombers bekruip, dit oor jou kop gooi en jou vaspen sodat jy nie kan sien of hoor of asemhaal nie.
Ek moes leer dat my Vader se oorweldiging nie altyd ’n versmorende donskombers is nie: ’n Kaapse herfsmôre wanneer die lug helderder as kristal is en Tafelberg met donker lyne geteken staan. Wanneer die wingerd rooier en bruiner word as wat sêbaar is, die droë blare soggens onder my kaal voete knars. Wanneer die sterre saans teen die kouer hemel brand en die maan in die swembad dryf. Dán word ek oorweldig met die majesteit van Hom wat ek Abba mag noem.
’n Paar maande gelede verloor ’n vriend van my dogter sy jong vrou in ’n motorongeluk, bly agter met twee dogtertjies van vyf en twee.
Onlangs kom ek by my dogter waar sy met die kleinste op haar skoot sit. Ontroer sien ek hoe die kind teen haar aankruip, armpie styf om die nek, met ’n vingertjie die kontoere van Lenska se gesig volg.
Dit word vir my te veel om te hanteer.
Maar dis nie net in die heel groot ellendes dat ek oorweldiging leer verstaan nie. Tydgrense storm op my af; dae met meer dinge om te doen as ure om dit te doen; dreigende familiekwellings, eindelose besluite – tot ek soos ’n wa waarvan die wiele afgeval het langs die pad lê.
Ons Australiese dogter kuier by ons met die kleine Jake, twintig maande oud. Sy geskater klink deur die huis, sonlig blink in sy goue haartjies, groot bruin oë soos dennepitte praat met jou.
“B-o-b!” roep hy in sy Australiese aksent agter sy oupa aan, sy mondjie vol druiwekorrels geprop. Vrolike kind. Maar as dinge te veel raak of as die groot vaakte hom bekruip, hoor jy sy kla-stemmetjie deur die gang dra: “Daddy! Daddy-y-y!”
Dan wil hy sy ver weg pappa hê.
As dinge vir ons te veel raak en ons wiele afval. As iets só kosbaar mooi is dat ons daardeur oorweldig word. As ontroering dreig om ons harte te breek. As tydgrense en kwellings en te min ure ons met ’n versmorende donskombers bekruip.
Dit is dán dat Abba sê: “Kom, daar’s ’n Rots wat hoër as jy is. Dis die enigste Rots waarop jy veilig sal wees. Kyk, dit is Ek. Net Ek!”
Nooit hoor ons Hom só goed soos in ’n oomblik van oorweldiging nie.