Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 14

Оглавление

Die groot verlang

Dis een van daardie onmoontlike mooi Bolandse dae. Die lug is so vars ’n mens kan daarin byt. Yslike golwe slaan skuim teen die helder hemel op. Meeue duik krysend oor ons.

Kaalvoet sit ek in die sand, laatson teen my rug. Die groot hond druk styf teen my aan. Ek voel sy lyf liggies bewe. Nougeset hou hy elke beweging dop van die kinders wat oor die rotse klouter.

Ek sit my arm om hom. Hy sug diep, maar sy blik weifel nie. Myne ook nie.

My kinders wat vyf minute van ons af gewoon het, het weggetrek Kleinmond toe. Ek gaan nie meer smiddae die twee kleintjies by hul skool haal nie. In hul spesiale kamertjie sit die bere lusteloos op die bed. Die gordyne hang slap voor die rame. Geen stemmetjies kom uit die swembad nie en niemand lol om op my rekenaar te speel nie. Die pot lekkertjies op my lessenaar raak nie leeg nie en die koekieblik bly vol.

Smiddae wag die honde vrugteloos op my dogter se motor waarin sy die kinders kom haal. Hulle spits hul ore en laat sak dit weer en kyk my beskuldigend aan.

Die skielike leegte vang my onverhoeds. Eers dag ek: dis reg so, platteland is die plek om kinders groot te maak, ek’s mos ’n volwasse ma wat nie my kinders aan my vasbind nie.

Ek’s ’n gelowige, die Here sal na hulle kyk.

Maar toe vat die groot verlange my. Skielik identifiseer ek met die droefgeestige skrywer van Psalm 102. By tye voel ek, nes hy, so verlate soos ’n pelikaan in ’n woestyn, soos ’n uil tussen murasies, soos ’n eensame voël op ’n huis se dak. (Ongelukkig kan ek nie ook sê dat ek alle eetlus verloor het nie!)

Ek tel die verlate bere op hul beddens op, vermy die springtou wat opgerol lê, loop langs die petunias in die tuintjie wat hulle self geplant het en ek huil onbeskaamd.

“En nou?” vra my man. “Ek dag jy was so ’n voorstander van die onderneming . . .?”

Ek het ook so gedink.

“Here . . .? Sê nou net hulle . . .! Wat as . . .?”

Dit voel my Hy glimlag geduldig. Ek bedek my gesig, skaam oor my gebrek aan vertroue in sy getrouheid.

Toe gaan kuier ek die eerste naweek. Huisie by die see, kinders wat nie genoeg kry van die nuwe vryheid nie. Alleen af see toe hardloop. Fietsry in die stil strate. Voordeur wat nie gesluit word nie. Die hond loop stert in die lug. Die kat droom in die groot boom in die voortuin.

My dogter skyn die gevaarlike seepad-kilometers werk toe in die stad lag-lag af te lê.

Nou sit ek hier in die middagloute met die waaksame hond langs my. Die tweetjies kom aan­gestorm. Tienjaar vlei haar teen my aan, kop in my skoot. Vyfjaar ken nie van sit nie. Sy dartel soos ’n seeskuimpie oor die sand, die wind dra die liedjie wat sy sing die branders in.

“Ek mis julle só,” sê ek en vleg tienjaar se welige hare tussen my vingers.

“Ek mis jou ook,” sê sy. Haar oë is blouer as die lug bo ons. “Baie, baie, baie. Maar ek weet mos jy’s lief vir my. Jy sal mos nie ophou nie.”

Ek sluk en kyk uit oor die branders. Wat het die man ook weer in die laaste verse van die psalm wat hy so droewig aangehef het, gesê: “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. U bly dieselfde, u jare het geen einde nie.”

Langs my sug die groot hond weer en lê sy kop op sy pote neer.

Lewensblik

Подняться наверх