Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 5
ОглавлениеDie Kersfees-Kind
Op Oupa en Ouma Karoo se plaas was niks dennebome vir ’n Kersboom nie. Ons moes klaarkom met ’n siprestak. Een wat in ’n blik sand gestaan het. Versiersels moes ons self maak. Sipresboomknolletjies is met die blinkpapier uit ’n sigaretdosie oorgetrek en aan toutjies van Ouma se gekleurde hekelgare gehang. Engeltjies is met groot konsentrasie uit skoendose geknip en met wit papier geplak. As daar nog silwerpapier oor was van dié wat Ouma heeljaar van die ooms gespaar het, kon hulle blink vlerke kry. Elke Kersfees is die goue ster wat ons tante uit Engeland gebring het, in die boomtop vasgebind. Wattepluisies was sneeu, al het die kraaie buite gegaap. Onder die boom het ons my sussie se pop lê gemaak. Dit was Jesus.
Kersfees het vir my na sipres geruik.
Ons Namakwalandse oupa en ouma het nooit ’n Kersboom gemaak nie. Op asemlose warm Oukersaande op die pastorie se lang stoep het ons geluister wanneer Oupa die Kersverhaal elke keer nuut vertel. Dan het ons gekyk hoe helder die sterre teen Namakwaland se hemel hang. In ons gedagtes kon ons die ster daardie nag bo die stal sien skitter. Oupa het oor Jesus gepraat asof hy Hom self geken het. Hy wou nie dat ons ’n popkrippie maak nie.
“ ’n Seun is vir ons gebore,” het hy gesê en sy blou oë was wonderlik sag, “maar ’n Koning kom ons haal.”
Ek het nie geweet waarvan hy praat nie. Maar ek het nooit die klank in sy stem vergeet wanneer hy daardie Naam sê nie. Kersnag as almal gaan slaap het, kon ons hom op sy harp hoor speel terwyl hy sing. As kind was Kersfees ook vir my die soet klanke van Oupa se harp op ’n warm Oukersnag.
Die mooiste Kersfees wat ek ooit beleef het, was een jaar in Parys. Op elke straathoek het ’n Kersboom geflikker. Stringe liggies langs die Seine. Kersvader op ’n slee met rinkelende klokkies aan sy rendiere. In die Sacré-Coeur op Montmartre het die kerse wild gewalm in die ysige tog wat deur die kerk getrek het, gedans teen die koue marmerbeeld van Jesus. Dit het na wierook geruik en die stof van eeue. Buite het die sneeu in vlae gesif, nes op die Kerskaartjies.
Half verkluim het ons in ’n berookte bistro gaan sit en gluhwein drink, ons glase romanties teen mekaar geklink. Verruk “Bon Noel” geroep. In die strate rondom het die verkeer sketterend verbygetoeter. Ek kon nie sipres ruik of ’n harp hoor nie. Van die Seun het ek niks gemerk nie.
Vir my eie kinders het ek towermooi Kersbome gemaak. Ek het my verlustig in handjies wat na die tooisels gryp, die weerkaatsing van gesiggies in die blink glasballe. Die storie het ek dramaties met die figuurtjies om die geboortetoneel geïllustreer. Tog was hulle ogies gou geboei deur die geskenke onder die boom eerder as die Kind in die krip. Het hulle in die Kers-besete tyd verstrik geraak eerder as om by die Seun wat vir ons gebore is, uit te kom.
Toe leer ek die Seun van naby ken. Ek het geleer wat beteken: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Ek het verstaan dat sy heerskappy sal uitbrei en dat Hy vrede op aarde sal bring. Dié vrede wat net die Ewige Koning kan bewerkstellig.
En vir die eerste keer het ek geweet waarvan Oupa gepraat het.