Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 21

Оглавление

Woning vir ’n Koning

Die afgelope Desember kuier ons by familie in Nederland. Weer eens snak ek na asem by die aansien van soveel geordenheid, soveel wetsgehoorsaamheid op die paaie, soveel moderne toebehore in die gesellige huise.

Treine wat op tyd verby gly, busse wat geruisloos langs rinkel. Alles wérk gewoon, alles kán gewoon.

En wat ’n pragtige land! Deur die St. Jan-katedraal in Gouda se wondermooie brandglasvensters, baie meters hoog, val die lig goud oor die ysskaatsbaan op die markplein.

Dis ’n sagte winter, sê my familie, skaars onder 4 °C . . .

Soms moet jy uit Afrika wel ook na jou asem snak as jy op die oorvol paaie in files vasval, die eindelose trappe in die smal huise steeds maar klim en die son net eenmaal in drie weke vir ’n halfuur sy kop uitsteek. Aanvanklik raak jou Afrikaanse asem ook half kort as jou Hollandse familie “geen blad voor de mond nemen” en alles presies sê soos dit is.

Maar algou omvou die “geselligheid” en die warmte jou. Jy besef uiteraard ook spoedig weer dat jy vergeet het jou Kaapse jasse is te koud vir buite en jou truie te warm vir binne en jy wend jou dankbaar tot die “hamster opruiming” waar die reklame jou toeroep: “Twee halen, één betalen!

Ook al kry jou swak randjie swaar hoofpyn daarvan.

Op een van die voorlaaste dae voor ek verder Jerusalem toe gaan, besoek ons Paleis Het Loo – spesiaal dan vir my, want die ander het dit meermale al gesien.

Het Loo tussen die bosse by Apeldoorn in die hart van Nederland was van 1686 tot 1975 die geliefkoosde somerverblyf van koninklikes en stadhouers.

Sedertdien is die paleis in ’n museum omskep nadat dit op aanskoulike wyse saam met die tuine gerestoureer is tot wat dit in die sewentiende eeu was.

As jy eenmaal die pragtige geboue binnegegaan het, raak jou asem ook al weer kort so perfek soos dit gedaan is.

Dié soos in die tyd van koningin Emma, of dan Wilhelmina of Juliana. Noem maar op. Tafels gedek soos dit presies vir konink­like maaltye klaargestaan het. Weelde-beddens, met ivoor ingelegde meubels, eindelose skilderye.

’n Mens verkyk jou aan die fraaie kinderkamers, die leuke speelgoed.

Dis by een so ’n fraaie wiegie in ’n kinderkamer dat die gedagte my opeens te binne skiet: my Koning – dié Koning van alle konings – waar het sy wieg gestaan, hoe het Hy gewoon?

Mooi is meteens nie meer so verskriklik mooi nie, my hart begin met vreemde benouing klop.

As ons eenmaal buite in die sorgvuldig versorgde tuine staan, haal ek in die koue lug al vryer asem. Is die herinnering van die glans en die goud al minder.

Maar dis eers as ons deur die uitgestrekte bospark terug­stap dat die so geliefde Teenwoordigheid werklik tot my begin deurdring.

Ek kyk op in die hemelhoë iepe met hul donker, groenbemoste stam en die warrige dun-dun takke wat, asof met potlood geteken, teen die pêrelgrys lug op rook. En roesigrooi tussendeur soos ’n brand in die bos, die spitse klein beuke op die digte bruin blaremat vlam . . .

Die geur van nat aarde en deurweekte blare slaan heerlik om ons op.

Toe is dit dat ek die Stem goed hoor: “Roem dít my Naam dan nie? Is dít dan geen woning vir ’n Koning?”

Lewensblik

Подняться наверх