Читать книгу Lewensblik - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 4
ОглавлениеDie gelykenis
Hy is s-o-o mooi. Gesigsmaskertjie en pote, swart, fyn tierlyfie, blouste blou oë. Ons het hom Shlomo gedoop voor ons nog geweet het hoe slim hy regtig is. In die koerant het hy geadverteer gestaan vir “a very spirited kitten”! Wel, hy is inderdaad ’n Salomo en ongetwyfeld “spirited”. Dis ons agt maande oue Siamees.
“Moet ons weer ’n kat kry?” het my man vertwyfeld gevra ná ons vorige Siamees, Misha, voor die huis doodgery is. Die nag voor ek in Januarie Jerusalem toe is. Ek kon sy huiwering verstaan, maar by my bidplek het ek tog gepleit: “Asseblief Abba, nog net hierdie een keer!”
Toe gaan ons hom haal. Totaal onbevange sit hy op my knie in die motor. Kombersie en mandjie genegeer. Tuis raak hy binne dae die twee Jack Russels baas. Daar is ongetwyfeld geen gebrek aan persoonlikheid nie. Hy is alles wat ek ooit in ’n kat kon vra. Maar binne my veg ekstase en vrees ’n ongelyke stryd. Wat as die renbaan-voorstraat hom ook eis? Op die veearts se aandrang hou ek hom die eerste twee weke binnenshuis. Maar Shlomo se ongeduld is baie gou sigbaar.
Ons hang ’n klokkie langs sy naamplaatjie om sy nek om te hoor waar hy is. Toe laat ek hom versigtig in die agtertuin uit. Glo naarstiglik die drie mak eekhorings, ’n swerm duiwe, die honde, die bome, sal hom besig hou. Ek bid en ek hardloop en ek raas en ek paai. Maar Shlomo is Shlomo. Hy hardloop moeiteloos oor die dak en gaan sit uitdagend in die straat. Snags lê en spin hy, sag soos ’n baba, tussen ons onder die duvet. Maar bedags doen hy sy eie ding.
My buurman, twee meter in sy sokkies, lui die voordeurklokkie. “Your kitten,” sê hy, “is in my garden, I wanted to bring him, but he bites.”
Weet ek! Die onderwerp van ons gesprek verskyn skigtig op die grasperk agter ons. Daar sit hy hom ongeërg en was. Ek probeer hom bykom, maar hy ontglip my blitsig, spring op die prieel en grinnik van bo af vir my.
Ons veearts het gesê ’n mens kan ’n kat leer om met sononder in te kom en nie snags rond te loop nie. Dis wanneer hulle raakgery word. Wonder bo wonder laat Shlomo hom dit leer. Skemeraand kom hy op my skoot voor die rekenaar sit.
Hy verken die ganse woonbuurt. My (ook dier-besete) oorkantste buurvrou waarsku my dat hy gereeld die straat argeloos oorsteek. “Abba,” soebat ek, “daar is geen manier hoe ek Shlomo kan oppas nie! Hoe ek kan keer dat hy nie ook doodgery word nie!”
“Jy kán hom nie oppas nie,” hoor ek Hom in my hart sê.
Ek kyk deur die oop venster na waar Shlomo agter ’n eekhoring die boom op skarrel.
“Wat moet ek doen?” vra ek moedeloos.
“Laat hy vir jou ’n gelykenis wees . . .”
’n Gelykenis? Ek sit stil voor Hom om te kan weet wat Hy bedoel. Mettertyd begin dit sin maak. Ek kan Shlomo nie beskerm nie. Nie vir hom nie, nie my kinders of my man of my ander geliefdes nie. Ek kan niks doen nie.
Maar my hart hoor weer sy dierbare stem daardie eeue oue woorde bevestig wat Jeremia eenmaal gebid het: “Niks is vir My onmoontlik nie!”
Dit moes Hy my deur Shlomo weer laat verstaan. Sodat ek kan weet om aan Hom vas te hou. Net aan Hom. Nóú terwyl ek hier in die hospitaal se voorportaal sit en skryf terwyl ons kleindogter, Aliyah, vir breinchirurgie in die teater is.