Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 10

Оглавление

4 Januarie

God gee lig

LEES Jesaja 40:1–5

Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby … – Jesaja 40:2

Niemand kan die droefheid wat die dood bring, ontvlug nie. Ons leef in ’n wêreld gevul met pyn, lyding, ongeluk, beproewings en die dood. In só ’n tyd is daar net Een wat lig in die duisternis kan gee, wat die hart kan heel wat deur droefheid gebroke is, wat vrede in die binneste en kalmte in die gewonde gemoed kan bring: God ons Vader.

Hy het dit vir Job en vir Paulus en vir ontelbare skares gedoen. Hy wil dit ook vir jou doen.

God waarborg nie dat jy vry sal wees van alle droefheid nie, maar belowe wel sy liefdevolle vertroosting en krag in die stryd. Geloof is nie ’n wondermiddel om die lewe maklik te maak nie, maar ’n genademiddel om ons sterk genoeg vir die uitdagings te maak. Dit neem nie die las weg nie, maar gee ons die krag om dit te dra.

Die kruis van Jesus Christus demonstreer aan ons dat selfs die onskuldiges in hierdie wêreld ly, en dat God se vertroosting ons kan laat triomfeer oor alle verlies. Hierdie wete gee ons krag om met blymoedigheid en sonder murmerering ons eie kruis agter die groot Kruisdraer aan te dra.

GEBED

Heilige Vader, U wat die toevlug en sterkte van beproefde kinders is, vertroos hulle wat op hierdie oomblik deur donker dieptes gaan.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх