Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 8

Оглавление

2 Januarie

Die bediening van bemoediging

LEES 1 Tessalonisense 5:12–18

Praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. – 1 Tessalonisense 5:14

Die slagspreuk wat vandag in die wêreld geld, is: “Elkeen vir homself!” Die blye boodskap leer ons egter die teendeel: Ons word opgeroep om mekaar te bemoedig, te help en om met mekaar geduldig te wees. Dit is ’n uitdaging in ’n wêreld van selfsug, waar mense geen tyd, oog of hart het vir hul medemens nie.

Hierdie hartelose wêreld het bemoediging so dringend nodig. Hoe verlang die persoon wat langs die pad uitgesak het nie na ’n vriendelike woord, ’n warm handdruk of ’n spontane glimlag nie!

God skenk aan ons soveel geleenthede om hierdie bediening te beoefen en ons laat hulle ongebruik verbygaan. Hoe rampspoedig sou dit nie gewees het as die barmhartige Samaritaan ook “anderkant verbygeloop” het nie!

Daar is soveel mense op die slagveld van die lewe wat smag na ’n beker koue water, na ’n vriendelike gebaar om hul donker hemel te verlig. Die Meester was gewillig om ’n melaatse met liefde en genesing aan te raak. Ons, sy dissipels, durf nie minder doen nie!

GEBED

Meester van barmhartigheid en genade, leer my na u voorbeeld om my medemens te bemoedig deur die krag van die Heilige Gees.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх