Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 14

Оглавление

8 Januarie

Geestelike droogte

LEES Job 23:1–17

As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek toe gaan. – Job 23:3

Hoe innig jy ook al begeer om die teenwoordigheid van Christus in jou lewe te ervaar, daar sal ongetwyfeld tye van geestelike droogte kom. In sulke tye voel God so ver en sug ons soos Job: “As ek maar geweet het waar om God te vind …” (23:3).

As dit is wat jy op die oomblik deurmaak, onthou dat hierdie tyd kan lei tot geestelike groei en volwassenheid. Dit is uiters belangrik dat jy sal vasklou aan jou geloof in God en nie toelaat dat jou emosies jou geestelike diepte vernietig nie. Bepeins die woorde van Psalm 42:9: “Tog sal die Here weer op ’n dag sy trou laat blyk en sal ek selfs in die nag ’n lied vir Hom sing, ’n gebed tot die God van my lewe.”

Geestelike droogte kan ook veroorsaak word deur onwilligheid om die wil van God vir jou lewe te aanvaar. As jy volhard om iets te doen teen die wil van God, is jy besig om jou skuld soos ’n muur op te bou, om jouself van Hom te skei. Bely jou skuld voor God. As daar dan nog by jou geestelike barheid en eensaamheid is, wees verseker dat God met jou is en wag om jou krag te gee, jou skuld te vergewe en jou te lei tot ’n voller en ryker lewe.

GEBED

Heilige Vader, wat ook al die oorsaak mag wees van die geestelike droogte in my lewe, ek bevestig my geloof in u wil vir my lewe en my opregte liefde vir U.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх