Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 6

Оглавление

Hemelse Vader

Aan die begin van die nuwe jaar kom ons na U toe, die Almagtige en Alwyse, wat van die begin af ook die einde sien.Voordat ons die nuwe, onbekende pad betree, moet ons eers bely dat ons alleen veilig sal wees as U met elke tree ons hand vashou. As die pad voor ons donker lyk, laat ons in die lig van die geloof verder gaan. As te veel vir ons oog verborge is, laat ons getrou bly aan dit wat ons wel weet en sien. As ons nie ons bestemming in die verte kan bemerk nie, maak ons dankbaar vir die enkele treë wat ons wel kan sien. As ons u wese nie kan begryp nie, laat ons kinderlik vertrouend aan u beloftes vashou. As dit ons soms aan geloof ontbreek, laat ons nooit die liefde en die hoop verloor nie en, Here, kom ons ongeloof tot hulp. As ons nie insig in u plan met ons lewe het nie, laat ons dit in gehoorsaamheid nie bevraagteken nie. As ons hierdie jaar suksesvol is, hou ons dankbaar, nederig en ootmoedig. As teleurstelling en mislukking op ons wag, bewaar ons van wanhoop. Of ons drome en ambisies bewaarheid word en of ons ideale tot as word in ons hande, dierbare Vader, omarm ons met u liefde en leer ons dat alles ten goede meewerk.Maak ons blymoedige kinders van U in hierdie jaar. Ons bid dit in die Naam van Hom wat deur sy dood dit vir ons moontlik gemaak het om die lewe te kies – Jesus Christus, ons lewende Here en Verlosser.

Amen

Op vlerke van geloof

Подняться наверх