Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 20

Оглавление

14 Januarie

God is groter as jou probleem

LEES 2 Korintiërs 4:7–15

In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. – 2 Korintiërs 4:8–9

Tragiese gebeurtenisse en moeilikhede kom dikwels op ons af sonder dat ons daarvoor soek. Wanneer dit gebeur, word ons verward en opstandig. Ons eis ’n verklaring waarom hierdie dinge met óns gebeur en roep selfs vir God tot verantwoording.

As ons werklik ernstig soek na ’n oplossing, moet ons die Heilige Gees vra om aan ons die waarheid omtrent onsself te openbaar. Dit is ’n uitdagende en verootmoedigende ondervinding, maar ook bevrydend. As ons in selfondersoek die verhouding tussen ons en God regstel, leer ons deur ons probleme iets van sy liefde, genade en vergifnis. Dán het ons ’n kragtige geloof in ’n almagtige en liefdevolle God; ’n geloof wat nie van omstandighede afhang nie.

Gaan vandag met jou probleem na jou hemelse Vader. Leef dan in die oortuiging dat God groter is as jou probleem en betuig jou gewilligheid om sy wil te doen. Dan leef jy binne die trooslaer van God!

GEBED

Hemelse Vader, as my probleme vir my te veel word, leer my deur u Gees die waarheid omtrent myself. Sterk my in die geloof dat U in Christus Jesus reeds vir my ’n antwoord het.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх