Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 12

Оглавление

6 Januarie

Geloof in die storm

LEES Markus 4:35–41

Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” – Markus 4:40

Op ’n dag sit ’n seuntjie rustig in sy pa se kajuit en speel, terwyl ’n storm buite woed en die skip gevaarlik kantel. Iemand vra vir hom hoe hy so rustig kan speel terwyl almal in lewensgevaar verkeer. Sy antwoord was kinderlik-gelowig: “My pa is die kaptein van hierdie skip. Waarom sal ek bang wees?” Te midde van die storms in ons lewe moet ons só ’n geloof behou.

Waar Christus teenwoordig is, bedaar die storms van die lewe. Wanneer die koue winde van droefheid tierend in ons lewe loei, is daar vrede en vertroosting in die wete dat Hy by ons is. In elke storm wat ons skud, gee Hy ons ’n vrede waarvan geen storm op aarde ons kan beroof nie.

Christus bring bedaring wanneer ons probleme ongeloof, twyfel of wanhoop in ons lewe ontketen. Hy vertel ons van ’n Vader wat in liefde ons hand vat sodat ons nooit uit die sfeer van sy bewaring kan wegdryf nie. Aanvaar hierdie heilswaarheid in die geloof of bly magteloos in die storm ronddobber.

GEBED

Meester, U wat die storms beheer, dankie dat U my hand hou. Lei my na waters waar daar vrede is, om u Naam ontwil.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх