Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 21

Оглавление

15 Januarie

Barmhartigheid gebore uit liefde

LEES Psalm 118

Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. – Psalm 118:24

Geloof wat nie uitmond in dade van liefde nie, is onvrugbaar en nutteloos. Jou geloof moet lei tot ’n dieper ervaring met God, die bron van alle ware liefde. Om ’n geloof te besit wat, deur liefde gedring, tot dade oorgaan, vereis dus ’n onafgebroke verbintenis met Hom.

Deur Jesus Christus só lief te hê dat sy teenwoordigheid ’n werklikheid in jou lewe word, word jou geloof besiel sodat jy dade van liefde verrig. ’n Vaste geloof in die Heiland is die grondbeginsel van Christelike barmhartigheid.

Geloof kan alleen lewend en betekenisvol wees as dit deur die liefde gedra word. Sonder liefde bereik jou geloof nooit die hoogte, diepte, lengte of breedte wat dit kán bereik nie.

Geloof moet besiel word deur die liefde. Dan eers word jou godsdiens ’n praktiese werklikheid in jou lewe. Dan kyk jy weg van jouself en jou eie probleme en sien met nuwe oë die wêreld in nood rondom jou raak. Jy hoor die smeekgeroep en jy weet dat jy ’n liefdestaak het om te verrig. Dan is jou geloof nie meer bespiegeling en vroom woorde nie, maar word dit liefde in werksklere!

GEBED

Heilige Meester, U het ons geleer hoe om ons naaste in liefde te dien. Help ons sodat ons geloof ons daartoe in staat stel. Kom ons ongeloof tot hulp.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх