Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 22

Оглавление

16 Januarie

Produktiewe gebed

LEES Jesaja 59:1–8

Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. – Jesaja 59:1

Baie kinders van die Here beskou gebed en bepeinsing as iets wat alleen beoefen word as daar genoeg tyd is, as ’n soort versekering teen ramp en ongeluk.

Gebed is egter daar sodat ons God se wil vir ons lewe kan ontdek en nie sodat ons die wil van God kan buig om by ons wil aan te pas nie.

Voordat die seën van gebed ons deel kan word, moet die tegniek van gebed gekweek en getrou beoefen word.

Tyd wat in stilte met God deurgebring word, is die fondament van ware gebed. Om op die Here te wag kan ’n verstommende invloed in jou lewe word. As dit vroeg in die môre geskied, gee dit ’n lewende, sprankelende gehalte aan jou dag.

Ná die tyd wat met God deurgebring is, gaan jy die lewe kalm en ewewigtig tegemoet. Die morele keuses van die lewe word duideliker omlyn en jy het ’n meer besliste bewussyn van die leiding van God in jou lewe. Jy ontwikkel die vertroue om die dag te hanteer. Jy is blymoedig, jou gedagtes gesuiwer, jou hande en voete beslister, jou oë vonkel en jy is ’n meer produktiewe mens wat lewe tot eer van God!

GEBED

Hoorder van gebed, laat niks my beroof van die kosbare tyd wat ek alleen met U kan deurbring nie.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх