Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 44

Оглавление

5 Februarie

By die Here is jy veilig

LEES Psalm 4

Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon. – Psalm 4:9

Hoe oorwin ’n mens jou vrees? Hierdie vraag ontstaan op die een of ander tydstip by die meeste van ons. Miskien worstel jy op hierdie oomblik daarmee.

Daar is soveel vorme van vrees in die wêreld: die vrees van die klein kindjie wat vir die eerste maal skool toe gaan; van die jong mens wat vir die eerste maal werk toe gaan; van die volwassene voor ’n krisis in sy lewe; van die bejaarde voor die aftakeling van die ouderdom.

In hierdie omstandighede is daar vir jou ’n wonderlike boodskap in Psalm 4:9. Al sou die hele wêreld rondom jou onderworpe wees aan vernietigende vrees, kan jy as ’n kind van God ontspanne en rustig wees omdat jy jou vertroue in Hom geplaas het. Jy is seker dat God vir jou omgee en jy glo dat alles ten goede sal meewerk.

Wat jou omstandighede ook al is, vergeet geen oomblik dat jy ’n Hemelvader het nie. Moenie toelaat dat knaende vrees hierdie waarheid laat wegkwyn nie. Dan sal jy die lewe met vertroue kan tegemoetgaan, met die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan in jou hart.

GEBED

Ek dank U opnuut, Hemelvader, vir U teenwoordigheid wat my help om my vrees te oorwin. Dankie dat U aan my vertroue gee vir elke dag deur Jesus Christus my Here.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх