Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 51

Оглавление

12 Februarie

Draai na God toe

LEES Openbaring 21:1–5

God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. – Openbaring 21:3–4

Ons troos dikwels mense wat ’n dierbare aan die dood afgestaan het met die woorde: “Jy het mooi herinneringe om die hart mee te verwarm as die verlange ondraaglik word.” Herinneringe kan ’n vertroosting wees, maar dit kan ook smart meebring.

Elke dag bring sy kwota onuitwisbare herinneringe: ’n liedjie oor die radio wat julle saam geniet het; die reuk van veldblomme; ’n asemrowende sonsondergang – alles plaas jou met ’n felle hartseer terug in die verlede. Gee uiting aan jou verdriet. Trane is ’n bevrydingsmeganisme wat God vir jou gegee het. ’n Getroue vriend se geselskap kan ook vertroostend wees. Maak tyd hiervoor.

Draai veral na God toe, want jy kan hierdie donker dieptes nie alleen aandurf nie. Hy neem jou na waters waar daar vrede is en bring kalmte in jou gemoed.

Die lewe het jou nodig en jy het die lewe nodig. Daar is soveel dinge waaraan jy jou kan toewy wat vertroosting sal meebring. Bly naby aan God, want by Hom vind jy vrede en kalmte. Jy mag dan soms alleen wees, maar nooit eensaam nie.

GEBED

Al gaan ek deur die donker dieptes, Vader, sal ek nie bang wees nie, want U is met my. Hou my hand vas sodat ek altyd verseker sal wees van u liefdevolle teenwoordigheid.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх