Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 57

Оглавление

18 Februarie

God sál antwoord

LEES Jesaja 55:1–13

My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here … – Jesaja 55:8

Wanneer jy tot God om hulp roep, gee Hom die geleentheid om jou te antwoord. So dikwels draai ons in wanhoop van Hom weg omdat ons nie die geloofsgeduld het om te wag op sy antwoord nie.

Ons moet gewillig wees om te wag – omdat God sy tyd het. Ons moet gewillig wees om sy leiding te volg – omdat God alwetend is. Ons moet gewillig wees om sy bevele te gehoorsaam – omdat Hy nooit ’n fout maak nie. Altyd moet ons die onwrikbare geloof in die hart hê dat Hy weet wat om te doen en wanneer om te handel.

Die geloof sal vir jou gees berusting bring omdat jy sal ondervind dat God altyd, op sy heilige tyd, vir jou nuwe vergesigte sal open.

Al verstaan ons nie sy gedagtes nie en al ken ons nie sy weë nie, sal ons uitvind dat Hy alles in ons lewe ten goede laat meewerk. Dis nie altyd maklik om jou pad saam met God se pad te laat loop nie; om jou weë vir sy weë prys te gee nie, maar gehoorsaamheid bring onberekenbare geestelike wins.

GEBED

Here, my God, dankie dat elke dag saam met U ’n bruisende nuwe avontuur is. Bewaar my daarvan om haastig te word. Skenk my die genade om in stilte op U te wag en U gehoorsaam te volg.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх