Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 48

Оглавление

9 Februarie

God is ewig goed

LEES Job 42:9–17

Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste. – Job 42:12

Droefheid kom dikwels onverwags ons lewe binne en gooi ons hele lewe uit rat. Dan wil ons saam met Job kla: “My oë het swak geword van die swaarkry, my liggaam is net ’n skaduwee” (17:7).

Wat ook al die aard van jou verdriet of smart, dit is noodsaaklik dat jy dit in die regte gesindheid sal hanteer. Om dubbel te vou onder jou droefheid is om daaraan volmag oor jou lewe te gee, en dit is afbrekend en gevaarlik. Die primêre vereiste om droefheid te oorwin is ’n sterk en lewende geloof in ’n liefdevolle God. Dit sal jou help om in beheer te bly van jou emosies en jou vrywaar van selfvernietiging.

Geloof in die ewige goedheid van God stel jou in staat om jou verdriet as ’n bestanddeel van die lewe te aanvaar sonder om toe te laat dat dit bitterheid of selfbejammering kweek. Die dood van ’n dierbare word draaglik gemaak deur jou geloof in die ewige lewe. As jou lewensideale in skerwe rondom jou lê, sal ’n lewende geloof jou die krag gee om op te staan tot ’n nuwe lewe van oorwinning.

GEBED

Trooster van ons bang gemoed, ek dank U dat ek as oorwinnaar kan uitstyg deur die krag van u inwonende Heilige Gees.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх