Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 46

Оглавление

7 Februarie

Sjaloom! Vrede vir julle!

LEES Numeri 6:22–27

Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! – Numeri 6:26

Die woord “Sjaloom” beteken om te wees wat God bedoel het jy sal wees. En wat jy waarlik is, is veel belangriker as wat jy besit. ’n Sjaloom-mens ken innerlike vrede, gemoedsrus, harmonie asook vervulling.

“Sjaloom” is die verhouding wat tussen mense behoort te wees. Paulus het juis dit bedoel toe hy die Christene in Rome aangespoor het tot onderlinge vrede (Rom 14:19).

Hierdie harmonie en onderlinge vrede behoort ook in die huisgesin te wees. Hoe tragies is dit nie wanneer die tuiste ’n slagveld van stryd tussen huisgenote geword het nie. As die huisgesin nie in vrede kan saamwoon nie, hoe sal die wêreld ooit van stryd gevrywaar kan word?

As jy nie liefde het nie, het jy ook nie vrede nie. Omdat hierdie siek wêreld nie liefde het nie, het ook die vrede gewyk. God skenk ons egter sy sjaloom-vrede en verwag dat ons dit aan ’n vredehonger wêreld moet deurgee. Ons is nie bloot deur ons Christenskap hiertoe verbind nie – ons staan ook onder die opdrag van Hom wat ons uitgestuur het in die wêreld om vredesverhoudinge te gaan hê, sodat God deur sy vrede in hierdie wêreld heerskappy kan voer.

GEBED

Dankie, Vader van genade, dat ek u vrede ontvang. Versterk my wil om dit vryelik te deel met almal wat my lewenspad kruis.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх